Nuwe baadjie vir my teëls

Amelia Morris van Johannesburg skryf Kan ek krytverf op my badkamerteëls gebruik? Hoe lank hou dit? Ek is bekommerd dat die water en stoom in die vertrek probleme sal veroorsaak. En het dit ’n onderlaag of verseëlaar nodig?

Nadine Vosloo van Tjhoko Paint antwoord Ja, jy kan die muurteëls in jou badkamer verf, maar ons beveel nie aan dat jy ooit vloerteëls verf nie.

Wanneer jy die muurteëls verf, berei dit reg voor. Maak seker die oppervlak is skoon en olievry. Was dit met ’n lakverdunner, ook die voegbrystroke tussen die teëls. Moenie terpentyn, bensien of suikerseep gebruik nie.

Wag 20 minute dat die verdunner heeltemal verdamp voor jy die teëls verf (dis nie nodig om te skuur of ’n onderlaag aan te wend nie).

Wag tot die verf op die teëls droog is (minstens vier uur) en seël dit dan met Tjhoko Clear Glaze. Dit is ’n akrielproduk met ’n waterbasis, wat dit ’n uitstekende verseëlaar maak. Verdun 100 ml glaseersel op ’n slag met 30 ml water in ’n houer. Gebruik ’n klam lap of spons en smeer dit egalig oor die geverfde oppervlak. Vee in een rigting en maak seker alle areas is egalig bedek.

KONTAK tjhokopaint.co.za