Marita Visser van George skryf Ons het pas huis gekoop en wil graag die vloere verander. Die vorige eienaar het die gewone betonvloer bedek met Cemcrete se Colour Hardener Sealer en ek hou regtig nie van daardie industriële grys voorkoms nie; ek wil graag iets warmer hê soos ’n ligte, aardse taankleur of naaswit. Is daar ’n Cemcrete-produk waarmee dié Cemcrete-seëlaar bedek kan word?

Joanne Sykes, bemarkingsbestuurder by Cemcrete, antwoord Ek stel voor jy gebruik CreteCote, ’n veelsydige, duursame vloerbedekking met ’n sementbasis. Dit word in twee lae aangewend en lewer ’n dekoratiewe afwerking van 1,6 mm dik.

Voor jy begin, moet jy seker maak dat daar niks op die vloer is wat die hegting kan belemmer nie, soos vullis, krake, gate, vet, olie of gom. Jy sal die vloer moet skuur om ontslae te raak van enige vorige seëllae en enige stof of los materiaal verwyder met ’n stofsuier en harde borsel.

As jy ’n nuwe beton- of afgevlakte sementvloer bedek, maak seker die oppervlak is droog, glad, gelyk en stofvry; gee ’n nuwe vloer minstens 28 dae kans om droog te word.

Berei die oppervlak voor met twee lae Concrete Floor Primer; ’n erg poreuse vloer kan ’n derde laag nodig hê. Wend elke laag dwars oor die vorige aan, en laat dit droog word voor jy die volgende laag aanwend. Wag dan 24 uur tot dit droog is voor jy die CreteCote aanwend. Gee die CreteCote nog 24 uur kans om droog te word voor jy die hele vloer minstens twee keer spuit met water (kyk dat die water nêrens opdam nie). Maak seker die oppervlak is heeltemal skoon en droog (daar moet minder as 5% vog in die vloer wees) voor jy ’n seëlaar aanwend; Cemcrete vervaardig ’n verskeidenheid seëlaars wat hul maksimum hardheid gewoonlik ná 7–10 dae bereik. Wees in dié tyd versigtig en moenie meubels oor die vloer skuif nie; dit kan die bolaag beskadig. Sit liefs viltblokkies onder meubelpote. 

KONTAK cemcrete.co.za