Jessica Paddock van Benoni skryf Ek het houtplanke gebruik om ’n muur in my sitkamer te beklee, maar nou het als skeefgetrek! Hoe kan ek dit regmaak?

Tuis se selfdoen-ghoeroe, Deon de Goede, antwoord Die beste oplossing is om al die planke te verwyder. Boor en skroef horisontale stutte teen die muur vas om ’n raam vir jou vertikale planke te vorm. Daarna kan jy die bekleding teen die raam vassit met kouelym en spykers. Gebruik ovaal spykers en kap dit teen ’n hoek van 45° in die stutte.

Ek stel ook voor jy verseël die hout met drie lae Woodoc Water-Borne Matt; onthou om die verseëlaar tussen lae te laat droog word.

KONTAK deon@diydeon.co.za

Andrew Maritz, Tuis se ontwerpredakteur en ’n kranige selfdoener, het nog ’n voorstel Die hout het ongelukkig kromgetrek sedert dit geïnstalleer is. Dis in die aard van hout, veral dennehout, om skeef te trek namate dit uitdroog. Ek stel voor jy haal die planke af en sit dit dié keer teen die muur vas met soliede Rawl-boute. Ek sou ses per plank gebruik: twee langs mekaar bo, twee in die middel en twee onder. 

Jy kan ook van die planke omdraai sodat die platter kante teen die muur is. As jy die geronde kante goed natmaak, kan die hout meer buigsaam wees, en die ankerboute sal van die kromming in toom hou wanneer die hout weer uitdroog. Dié produkte is by die meeste ysterwarewinkels te koop.