Dewald Kannemeyer van Stellenberg skryf Ons wil graag ons voordeur vervang, maar die kosyn hou. Hoe verwyder ons nou sowat 40 jaar se vernis? Is verfstroper of ’n blaasvlam ’n opsie, of moet ons maar skuur, skuur, skuur? 

Frikkie Greeff, besturende direkteur van Woodoc, antwoord “Skuur, skuur, skuur” bly maar jou beste opsie. Verfstropers is nare goed om mee te werk en ons beveel dit selde aan. Die blaasvlam is ’n goeie metode, maar jy moet baie, baie versigtig werk om nie die hout (of jou wenkbroue) te skroei nie. 

Ek stel voor jy gaan koop nat/droë skuurpapier en mineraalterpentyn. Begin met die growwe skuurpapier (sowat 60 grint) rondom ’n skuurblokkie of ’n plankie van die regte lengte en breedte. Doop die skuurpapier in die terpentyn en skuur in dieselfde rigting as die houtgrein. Doop die skuurpapier weer in die terpentyn wanneer dit voel asof dit nie meer “byt” nie – dit sal die vernisreste van die skuurpapier afspoel en die proses vergemaklik. Hou so aan (vervang die papier wanneer dit nie meer doeltreffend is nie) totdat die ou vernis heeltemal tot op die rou hout afgeskuur is. 

Vee die hout goed skoon met ’n terpentynlappie, en skuur dan weer met fyner grint om die hout mooi skoon en glad te kry. Ek eindig gewoonlik met 180-grint of fyner. Hoe gladder die hout geskuur is, hoe mooier sal die uiteindelike afwerking wees. 

Aangesien jy nie weet wat die chemiese samestelling van die ou vernis is nie, stel ons voor jy laat die skuurpapier en lappe wat jy gebruik het, behoorlik uitdroog voordat jy dit weggooi – dit sal spontane ontbranding weens ’n chemiese reaksie verhoed.  

Wag tot die hout behoorlik skoon en glad is, vee dit dan weer met ’n terpentynlappie af en laat dit droog word. Nou kan die hout geseël word. Aangesien dit ’n ou kosyn is, sal die hout waarskynlik ’n lekker ryk kleur hê. Die kleur wat die hout vertoon wanneer dit met die terpentynlappie afgevee word, is die natuurlike kleur wat te voorskyn sal kom wanneer dit geseël word. As jy van daardie kleur hou, gebruik ’n kleurlose verseëlaar soos Woodoc 50 vir buitegebruik (beskikbaar in ’n glans- en mat afwerking).

Indien jy ’n ander kleur wil hê of enige skade in die hout wil verdoesel, gebruik een van ons Woodoc Colours-kleurkonsentrate (sien woodoc.com) om die verlangde kleur te kry. Voeg eenvoudig 20 ml van die Colours by 1 liter kleurlose Woodoc-verseëlaar soos Woodoc 50. Meng goed en wend aan volgens die aanwysings op die houer.

KONTAK 0800 411 200, woodoc.com