Nuwe lewe vir viniel

Linda Kinnear van Johannesburg skryf Ons het sowat ’n jaar gelede ’n nuwe vinielvloer met ’n visgraatpatroon in ons leefvertrek laat lê, maar nou lyk die vloer dof en futloos. Is daar ’n spesifieke produk waarmee ek dit moet versorg?

Eva Kaiser, stigter van Evalution Flooring, antwoord Vinielvloere is duursaam en veelsydig, waterdig, skraapbestand en maak maklik skoon. Dit is dus ideaal vir gesinne met klein kinders en troeteldiere, asook klam vertrekke en dié wat baie verkeer dra. Daar kan verskeie redes wees waarom jou vloer vaal lyk, maar ek vermoed dis jou skoonmaakmiddel wat ’n seperige of wasagtige lagie op die oppervlak vorm.

Een van die beste maniere om ’n vinielvloer skoon te maak, is met ’n mengsel van asyn en water. Die suur in die asyn help om vullis en vetterigheid van die oppervlak te lig en te verwyder sonder dat daar enige opbou van seep of was plaasvind.

Meng eenvoudig 125 ml (½ koppie) asyn met sowat 3,5 liter warm water en was die vloer met ’n klam dweil. Moenie jou vinielvloere met die oplossing deurweek nie en spoel jou dweil gereeld skoon in warm water om te verseker dat jy nie net die vullis van een kant van die vloer na die ander kant rondstoot nie. Dit kan nodig wees om hierdie proses te herhaal vir die beste resultaat.

Daarna beveel ek aan dat jy Evalution Flooring se Floor Finisher vir alledaagse skoonmaak gebruik; die produk is biodegradeerbaar en geskik vir alle harde vloersoorte.

KONTAK 021 557 0599, evalution.co.za

Herstel en versorg

Ailsa Hughes van Johannesburg skryf My kiaattafel se blad het skrape opgedoen toe ons ’n paar jaar gelede van Engeland af hierheen verhuis het. Ons het die merke laat herstel deur dit professioneel te laat poleer, maar nou het dit weer skade gekry weens klammigheid. Ek het die stel in 1963 gekoop. Dit is een van die laaste ontwerpe deur die Britse vervaardiger Waring & Gillow, gemaak van soliede hout en afgewerk met lakpolitoer. Hoe kan ek hierdie skade herstel?

Frikkie Greeff van Woodoc antwoord Skade aan lakvernis weens water/vogtigheid is ongelukkig onherstelbaar en jy sal nie van die melkerige voorkoms ontslae kan raak sonder om die hele oppervlak te behandel nie. Ek stel voor jy neem die tafel na dieselfde vakman wat die vorige skade herstel het (indien moontlik) sodat hy die lakvernis professioneel kan stroop en nuwe vernis kan aanwend. Die enigste manier om so ’n meubelstuk se waarde te behou, is om dit so na moontlik aan die oorspronklike te bewaar.

KONTAK woodoc.com

Vir ’n tikkie goud

Maureen de Villiers van Kaapstad skryf Ek wil my swart geverfde eetkamerkas se laaie met bladgoud versier. Hoe maak ek die “blonde shellac” vir die gombasis aan? Is daar dalk ’n ander produk wat makliker is om te gebruik?

Shelly Bergh, ’n gereelde Tuis-medewerker, antwoord Skellak (“shellac”) – ’n afskeiding van die lakskildluis – word volgens ’n ou Japannese metode gebruik om “gom” te maak deur dit in brandspiritus op te los. Ek stel voor jy koop liewer verguldpasta by ’n kunsvlytwinkel; dit werk baie makliker as om jou eie skellak aan te maak.

Jy kan ook gewone kouelym of PVA-lym (wat poliviniel-asetaat bevat) gebruik. Verdun dit met ’n bietjie water en verf dit dan aan die oppervlak wat jy wil verguld. Wag ’n paar sekondes dat dit taai word en plaas die bladgoud dan baie versigtig daarop. Gebruik ’n baie sagte droë, skoon kwas om dit op die voorbereide oppervlak vas te druk en glad te vee.

KONTAK shellybergh.com