Tuindilemma

Die uitdaging

Die pasgetroude Michelle en JC Schoeman het nie ’n eetkamer in hul huurwoonstel op Stellenbosch gehad nie, maar wel ’n klein, saai geplaveide binnehof. Hulle wou graag ’n ruimte skep waar hulle kan ontspan en vriende onthaal, maar dit moes nie te veel kos nie.

Die oplossing

Die paartjie het hul kreatiwiteit vrye teuels gegee en die saai ruimte in ’n veeldoelige kuierplek met ’n Mediterreense gevoel omskep. Dís wat hulle gedoen het:

1 KUNSGRAS

Nadat Michelle en JC hul huiswerk gedoen, ’n inspirasiebord en selfs ’n waterverfskets van die ruimte gemaak het, het hulle twee stukke kunsgras by die ysterwarewinkel gaan koop en aan die werk gespring.

“Ons wou meer groenigheid buite hê en het geweet kunsgras sou die ding doen; dit is ook sag onder jou voete, soos ’n mat,” sê Michelle. “Ek het die tuin in organiese vorms uitgelê sodat dit natuurliker lyk.”

Nadat hulle die groter stuk kunsgras knus om ’n boom in die hoek van die binnehof gelê het, het hulle die ander stuk in twee S-vorms gesny. Die eerste een is langs die reghoekige stuk by die boom gelê om die lyn te versag en ’n kurwe te vorm, terwyl die ander stuk aan die teenoorgestelde kant van die binnehof geplaas is.

“Ek het die patroon met bordkryt geteken en die gras met ’n lapskêr geknip. Die skêr is nou wel in sy peetjie, maar dit het soos ’n bom gewerk!” sê Michelle laggend.

2 KYK BOONTOE

Aangesien die binnehof aan die klein kant is, het die paartjie elemente van ’n vertikale tuin ingebring. Die latwerk met jasmyn verleen hoogte agter ’n groep potplante en bedek die baksteenmuur daaragter. Met behulp van lanterns aan die boom se takke in die hoek het Michelle nog vertikale lyne ingebring en die illusie van meer ruimte geskep.

Michelle en JC Schoeman

3 KNUS EN GESELLIG

Vandag vorm die binnehof ’n uiters nodige kuierplek, kompleet met ’n eettafel in die boom se skadu. Die Schoemans het ook ’n rusbank en ’n los mat bygevoeg, wat die ruimte meer intiem laat voel. ’n Vuurput voltooi die prentjie wanneer Michelle en JC nou hul aande hier deurbring.

Stroop en seël weer

Bernard Otto van Sasolburg skryf Noudat ek besig is om my klein kombuis op te knap, wil ek graag die seëlaar op die sementteëls verwyder; dit het plek-plek geel begin verkleur en moet vervang word. Hoe gaan ek te werk?

Robert Scott van Tile & Floor Care Chemicals antwoord Tile & Floor Care Sealer Stripper is ’n kragtige produk met ’n oplosmiddel as basis wat die meeste seëlaars en verwe, asook lynolie en uretaan, sal verwyder. Sealer Stripper is wateroplosbaar en sal ook die meeste soorte vlekke uit die vloer haal.

Maak seker die hele vloer is droog voordat jy Sealer Stripper aanwend en plak aanliggende oppervlakke toe met maskeerband. Toets die resultaat eers op ’n onopsigtelike plek en wend die stroper dan met ’n verfkwas of skaapwolroller aan. Gee die middel 3–5 minute kans om die seëlaar af te breek, maar moenie dat dit uitdroog nie. Gebruik dan ’n skuurkussinkie en verwyder enige reste met ’n oplossing van Tile & Floor Care Easy Clean en water. Mop op en spoel die vloer af; laat die oppervlak droog word en herhaal die proses indien nodig.

Om seker te maak die vloer is deeglik gestroop, vee met ’n klam lap daaroor en ondersoek die teëls vir eenvormigheid. Daar moet geen ligte en donker kolle – ’n aanduiding van seëlaarreste – wees nie.

Dit is belangrik dat jy jou sementteëls weer seël, aangesien onbeskermde teëls geneig is om af te slyt. Kies ’n oppervlakseëlaar soos Top Seal, wat teëls van bo af beskerm, of gebruik ’n indringende produk soos Natural Stone Sealer Matt, wat die teël sal bind en versterk.

KONTAK tfc.co.za

Raad met lelike luidsprekers

Marinda Boolsen van Port Elizabeth skryf My man het luidsprekers teen die muur langs ons TV opgesit en ek wil dit graag verbloem. Ek hou van die swart muur, maar wat van die res? Sweefrakke, ’n ingeboude eenheid of spieëls?

Wouter le Roux van Hello Charlie Interior Design Studio antwoord Dié probleem is algemeen wanneer toerusting ná die tyd by ’n vertrek ingebring word, pleks dat die ruimte van die begin af daarrondom ontwerp is.

’n Swart muur is ’n goeie idee, want die luidsprekers sal daarteen wegsmelt. Maar oorweeg ook rakke – hetsy sweefrakke bo en onder die luidsprekers of groter eenhede rondom die luidsprekers alkant van die TV. Jy kan die luidsprekers met akoestiese materiaal bedek; dink aan ’n houtraam met die lap styf daaroor gespan as ’n deur voor die luidspreker. Dit benadeel nie die klankgehalte nie en indien jy swart lap teen die swart muur gebruik, sal dit die seeroog verder verbloem. Indien jy ’n groot rakeenheid rondom bou, kan jy dit verfraai met plante en ander dekorbykomstighede wat die aandag van die luidsprekers sal aflei.

’n Ander, duurder opsie is om die luidsprekers met ’n klankstaaf te vervang. Installeer dit reg onder die TV-eenheid vir puik klank en ’n gesofistikeerde voorkoms. Luidsprekers wat in plafonborde ingebou is, is ook beskikbaar; dit is netjies uit die oog en bedek met materiaal wat by jou plafonkleur pas.

Kyk gerus na die tuisvermaak-opsies by Sonos en Bang & Olufsen. Dit is versoenbaar met Bluetooth en/of WiFi en kan met jou slimfoon beheer word, wat jou luidsprekerstelsel groter funksionaliteit gee en met meer as net jou TV verbind!

KONTAK hellocharlie.co.za