In die Augustus 2018-uitgawe van Tuis was daar Milestone Kitchens-eenhede ter waarde van R50 000 op die spel in ons Kitchen Heroes-kompetisie – die wenners was Annelie en Theuns Bredenkamp van Bethlehem. Annelie se gunsteling-item was die wasbakeenheid met plek vir ’n vullisblik.

Silvia Miles, die eienaar en bestuurder van Milestone Kitchens, het dit in gedagte gehou en die volgende ontwerp-voorstelle gedoen sodat die Bredenkamps hul ruimte ten beste kan benut: Ek het dié uitleg beplan rondom die punte van die werkdriehoek in ’n kombuis: die wasbak, stoof en yskas. Omdat jy heeltyd tussen dié drie moet beweeg, word dit die sentrum van al jou aktiwiteite. Oorweeg die volgende:

1 Die wasbak

Ons het genoeg werkruimte langs die wasbak gelaat om skoon skottelgoed te laat droogdrup of vuil skottelgoed neer te sit. Twee wasbakke is nuttig – die Bredenkamps gebruik die tweede een om groente in af te spoel. As hulle ’n skottelgoedwasser het, kan dit ook in die wasbakeenheid geïnstalleer word.

2 Die stoof

Rondom die stoof is genoeg werkspasie vir maklike kosbereiding. Danksy twee speseryrakke is bestanddele soos olies, geurmiddels en speserye gerieflik byderhand. Potte en gereedskap soos houtlepels en spatels pas in die laaie weerskante van die stoof.

3 Die yskas

Ek het die messegoed-kas en koffiekas tussen die spenskas en yskas geplaas om ’n plat oppervlak te vorm. Dis nuttig om so ’n werkvlak langs die yskas te hê waar jy kruideniersware kan uitpak of ’n vinnige koppie koffie of sny roosterbrood kan maak. Kombuisware wat gereeld gebruik word, soos papbakkies, kleinbordjies, slaaibakke of wynglase, sal netjies in die twee muureenhede tussen die koffiekas en die spenskas pas.

KONTAK milestonekitchens.co.za