In die Augustus 2019-uitgawe van Tuis was daar R50 000 se Milestone Kitchens-eenhede op die spel in ons Kitchen Heroes-kompetisie. Die wenners is Carrie-Lee en Michael Wolff van Durban. Carrie-Lee se gunsteling-item is die Swedish Style-dubbelwasbakeenheid.

Carrie-Lee se kombuis

“Ek en Michael bring baie tyd hier deur met ons twee jong dogters – ons geniet oggendkoffie en sjokolademelk, en doen kunsvlyt langs die kombuistafel,” vertel Carrie-Lee. Ongelukkig is die kombuis letterlik besig om uitmekaar te val. Nadat die wasbak inmekaargesak het, het ons ’n tydelike plan gemaak, maar nou is van die kasdeure ook op hul laaste bene ... Ek droom al jare daarvan om my kombuis met Milestone Kitchens-eenhede te vernuwe!”

Met die dubbelwasbakeenheid in gedagte het Silvia Miles, die eienaar en direkteur van Milestone Kitchens, die volgende ontwerp voorgestel waarmee die Wolffs hul ruimte ten volle kan benut.“Ons het bepaalde gebiede afgebaken: een vir kook, een vir huiswerk en handwerk, een vir die opwaskamer en een vir die spens.”  

1 DIE STOOF Die Nina-eilandeenheid het plek vir ’n ingeboude kookplaat, en ons het hierdie eenheid in die middel van die vertrek geplaas as fokuspunt in die ruim kombuis. Aangesien Michael redelik lank is en die meeste van die kookwerk behartig, sal dié eenheid hoër wees as die standaardhoogte van 900 mm.Die eiland het genoeg ruimte vir kosbereiding, en etlike laaie om kookgerei soos houtlepels en spatels in te bêre. Agter die eiland teen die muur stel ons twee deegtafels op rolwiele weerskante van die kort muur voor ter wille van ononderbroke vloei.

2 DIE WASBAK Ons het Carrie-Lee se gunsteling, die dubbelwasbakeenheid, teen die een lang muur geplaas. Dié eenheid het laaie vir potte en gebruiksgoed, met genoeg werkspasie langs die wasbak om vuil skottelgoed op te stapel en skoon skottelgoed te laat droog word.

3 DIE YSKAS Om ’n praktiese werkdriehoek tussen die wasbak, stoof en yskas te kry is die perfekte plek vir laasgenoemde teen die teenoorstaande muur, tussen die Deluxe-spenskas en die oondeenheid.Met die koskas en yskas langs mekaar, is kosbereiding nog makliker. Dis ook naby die bestaande spens.

Kies kortpad
As jy jou kombuis wil opkikker, maar nie alles op een slag kan doen nie, het Sabrina Miles, bedryfsbestuurder by Milestone Kitchens, dié kitsoplossings:
1 Vervang net jou kasdeure en verf die karkasse in dieselfde kleur.
2 Verwyder ’n paar ou kaste of breek ’n muur uit om plek te maak vir ’n kombuiseiland. Milestone Kitchens se losstaande eilande op rolwiele is gewild, want jy kan dit rondskuif en gebruik as ontbythoekies, tafels of dientafels. Jy kan natuurlik ook wiele onderaan ons koffiekaste of spenskaste sit. Dis juis die voordeel van losstaande eenhede; alles hoef nie op een slag gedoen te word nie. 
3 Werkblaaie van verskillende materiale in ’n kombuis kan prakties én mooi wees. Dink byvoorbeeld aan vlekvrye staal by die wasbak vir waterbestandheid, gekombineer met ’n houtblad op ’n eiland vir warmte en gemak.

KONTAK milestonekitchens.co.za