Franse bekoring

Elynor Desfarges van Durbanville skryf ’n Familielid het 35 jaar gelede ’n paar olieverfskilderye deur Caroline Burnett gekoop. Ek het ’n bietjie navorsing oor die kunstenaar gedoen en dit blyk dat dié skilderye nie baie gewild is nie. Wat sou die rede wees?

Kayleen Wrigley van Stephan Welz & Co. antwoord Caroline Burnett is ’n Amerikaanse skilder wat in die 19de eeu Frankryk toe getrek het om La Belle Époque (’n tydperk van vrede en ekonomiese welvaart waarin kuns en kultuur in Europa gefloreer het) te ervaar. Sy het ’n lid van die Société des Beaux-Arts in Parys geword (in die 1880’s gestig as mededinger vir die goed gevestigde Académie des Beaux-Arts) en in 1898 daar uitgestal.

Burnett is bekend vir haar impressionistiese skilderye van Europese straattonele, soms met die Eiffeltoring en die Arc de Triomphe. Hoewel sy baie produktief was, bestaan haar mark hoofsaaklik uit diegene wat welbekend is met sulke Europese tonele, veral die monumente van Parys. Haar mark in Suid-Afrika is dus klein.

OUDERDOM Laat 19de eeu–vroeg 20ste eeu

WAARDE R4 000–R6 000 op ’n veiling

KONTAK stephanwelzandco.co.za