Teetyd

Graham Elbourne skryf Ek het dié teestel geërf; dit bestaan uit ses koppies, vyf pierings, ses kleinbordjies en ’n suikerpotjie. Die volgende staan onder die potjie: Victoria, China, Czechoslovakia, Old England en Hand-painted. Het dit enige waarde?

Sophie-Louise Fröhlich van Stephan Welz & Co. antwoord Die Victoria Porzellan-fabriek in Stará Role, Tsjeggië (tot die einde van die Eerste Wêreldoorlog bekend as Altrohlau, Boheme) het dié stel vervaardig. Schmidt & Co. was in die laat 19de eeu die eienaars, en dis in 1945 onder die Tsjeggiese kommunistiese regime genasionaliseer. Die fabriek het hoofsaaklik gefokus op produkte van kommersiële waarde en nie kunswaarde nie, maar het tog ’n paar items van hoë gehalte gelewer. Omdat jou stel onvolledig is, het dit nie veel waarde nie.

OUDERDOM Laat 19de eeu – vroeë 20ste eeu
WAARDE Minder as R500

’n Pragbeeld

Sobeth Jordaan van Bloemfontein skryf Ek het dié bronsbeeldjie van 41,5 cm hoog op ’n veiling gekoop bloot omdat dit vir my so mooi was. Dit het ’n plaatjie wat lui: L’Alerte Par Ruchot. Kan julle dalk vir my iets daarvan vertel?

Sophie-Louise antwoord Dié Art Deco-beeldjie is waarskynlik van spelter en is “ná Ruchot” gegiet, met ander woorde, dis ’n reproduksie. Charles Ruchot was ’n Franse beeldhouer in die 19de eeu wat talle brons-gietwerk en objets d’art gemaak het.

OUDERDOM 19de eeu
WAARDE R1 000–R1 500 op ’n veiling

KONTAK stephanwelzandco.co.za