Die kis se storie

Carol Pittendrigh van Johannesburg skryf: Ek het dié kis onlangs by ’n vriend se huis afgeneem. Dit het voorheen behoort aan sy ouma wat in die vroeë 1900’s in Indonesië gewoon het. Met die eerste blik lyk dit na natuurlike hout, maar toe die son daarop skyn, kon ek sien dit blink asof dit geverf is; op die foto lyk dit ook of die kis met goue verf versier is. Ek het al ’n paar sulke kamferhout-kiste gesien, maar nooit met dié verftegniek nie. Kan julle my enigiets hieroor vertel?

Johan Joubert van Stephan Welz & Co. antwoord: Sulke kiste (soms verkeerdelik “teekiste” genoem) is veeldoelige bêrekiste wat vir die Westerse uitvoermark vervaardig is en daarom versier is in ’n styl wat die Westerse siening van ’n eksotiese Oosterse styl uitbeeld, met figure in tradisionele landskap- en argitektoniese tonele. Tradisionele kiste vir die Chinese mark is nie versier nie, maar het soms fyn kerfwerk van Chinese simbole soos drake, fenikse of lotusblomme gehad.

Kiste soos dié is dikwels uit kamferhout gekerf omdat dit insekwerende eienskappe het en dus perfek is om klere en tekstielware in te bêre. Hoewel kamferhout ’n goue skynsel kan hê, is dié kis waarskynlik met goue verf bedek omdat dit in die eienaar se smaak geval het. Geweldig baie van dié kiste is in die eerste helfte van die 20ste eeu in China vervaardig.

OUDERDOM 20ste eeu
WAARDE R3 000–R5 000

Vakmanskap

Elsabe Bettesworth van Ceres skryf: Hierdie erfstuk is ’n kosbare item in ons familie en dateer volgens oorlewering uit laat 1800’s of vroeg 1900’s. Het julle dalk inligting hieroor?

Sophie-Louise Fröhlich van Stephan Welz & Co. antwoord: Dis ’n buffetkas in die Arts & Crafts-styl. Die Arts & Crafts-beweging was gewild van omtrent 1880 tot 1920; dit het in Brittanje begin, eers na Europa en Noord-Amerika en later tot in die Ooste oorgespoel. Middeleeuse ontwerpe is dikwels geïnkorporeer en die klem het op tradisionele vakmanskap en anti-industrialisme geval.

OUDERDOM Laat 19de – vroeë 20ste eeu
WAARDE ± R4 000 op ’n veiling

KONTAK ct@stephanwelzandco.co.za