Nadine Parker van Kaapstad skryf My skoonpa se suster is onlangs oorlede en terwyl ons haar huis skoongemaak het, het ons op ’n JH Pierneef-linosneewerk, Fisherman’s Harbour Hermanus, afgekom. Het dit enige waarde en by wie kan ons die egtheid laat verifieer?

Ruarc Peffers, besturende direkteur van Aspire Art Auctions, antwoord Die kunswerk is eintlik ’n reproduksie van die oorspronklike JH Pierneef-linosneewerk wat die vissershawe in Hermanus uitbeeld.

Omdat historiese rekords beperk is, is dit moeilik om vas te stel wat presies gebeur het, maar ek verstaan dat Pierneef se weduwee, May, die boedel geërf het en ná sy dood gereël het om ’n stel van sy linosneewerke te laat herdruk. Sy het die Pretoriase kunstenaar Zakkie Eloff gevra om die drukproses te bestuur; die destydse vooraanstaande kunspublikasie Lantern het dit bemark.

Schweickerdt, toe ’n prominente Pretoriase kunshandelaar wat ook Pierneef se agent was, sy uitstallings aangebied het en ’n lewenslange vriend geword het, was weer betrokke by die verkope. Sover ek weet, was die herdrukte uitgawes beperk tot 10 of 12 van elk.

Let net op die verskil tussen ’n oorspronklike en ’n unieke kunswerk. Al is die linosneewerke waarop dié herdruk gegrond is, inderdaad oorspronklik, is dit nie uniek nie. Linosneewerke is afdrukke of veelvoude, wat beteken dat dit in ’n uitgawe vervaardig word. Die getal kan aansienlik wissel – van ’n handvol, tot dosyne, honderde of selfs duisende, afhangend van die drukmetode. Omdat ’n linosnee ’n relatief sagte medium is, word dit gewoonlik in kleiner uitgawes gedruk. Terwyl elke linosnee wat uit ’n kunstenaar se werk vervaardig is, oorspronklik is, is geeneen van hulle uniek nie.

Dié werk sou gekatalogiseer word as Ná JH Pierneef (wat beteken dis ná sy leeftyd gemaak, maar op ’n wettige manier en met die toestemming van sy boedel) en die waarde is gevolglik baie laer as een van die oorspronklike linosneewerke wat in sy leeftyd geproduseer is. Oorspronklike werke kan enigiets van R10 000 tot R50 000 (selfs meer) op ’n veiling haal.

Die postuum uitgawes haal gewoonlik minder, afhangend van die grootte, gehalte en toestand.

WAARDE Tussen R500 en R2 500

KONTAK aspireart.net