Johan Scholtemeijer van Bethal skryf Ek het dié “Blue Cups”-skildery deur Bettie Cilliers-Barnard geërf. Kan julle my sê of dit enigiets werd is?
Kayleen Wrigley van Walker Scott Art Advisory antwoord Dié skildery deur Bettie Cilliers-Barnard is tipies van ’n spesifieke tydperk binne die kunstenaar se groter oeuvre. Die werk val in Cilliers-Barnard se beskrywende tydperk waarin sy met groot klem op formele elemente soos lyn, vorm, toonwaarde en tekstuur geskilder het. Kort ná dié tydperk het die kunstenaar beskrywende en figuratiewe skilderkuns laat vaar, wat beteken dié skildery is bes moontlik een van haar heel laaste stillewes.
Sy het daarna op meer abstrakte skilderwerk gefokus, met sirkels ’n gewilde tema. Later sou koppe en voëls weer ’n verskyning maak toe sy opnuut hulde gebring het aan haar formalistiese wortels. Nadat sy ’n Baccalaureus-graad in kuns aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het Cilliers-Barnard verder studeer aan die Hogerer Instituut voor Schone Kunsten in Antwerpen voordat sy na Parys verhuis het, waar sy onder Stanley Hayter en Jean-Paul Pons gestudeer het.