Linda Pietersen van Kaapstad skryf Ek wil graag meer weet oor dié beker, en ook of dit iets werd is. Kan julle help?
Ainsley Taylor van Stephan Welz & Co. antwoord Moorcroft-pottebakkersware is al sedert 1897 wêreldwyd in aanvraag. Dit was die jaar waarin William Moorcroft, die ontwerper van kunstige pottebakkersware by die Britse firma Macintyre’s, se eerste artikels vir toonaangewende winkels soos Harrods, Liberty of London en Tiffany’s in New York vervaardig is.
Nadat Moorcroft in 1904 ’n goue medalje by die St Louis Exhibition gewen het vir sy “Florian Ware” in die Art Nouveau-styl, het verkope van sy ware aansienlik toegeneem. In 1913 stig hy sy eie firma met die ondersteuning van Liberty. Dié maatskappy se reputasie het selfs meer aansien gekry toe hy in 1928 as die firma se “pottebakker vir HM die Koningin” aangestel is.