Oulike driemanskap

Ethné Smith van Worcester skryf Ek het dié drie geraamde skilderye by my ma geërf; as ek reg onthou, het sy dit in die sewentigerjare gekoop. Het julle dalk enige inligting oor die kunstenaar, Carlo Sdoya, en hoeveel die skilderye werd kan wees?

Kayleen Wrigley van Walker Scott Art Advisory antwoord Ongelukkig is daar nie veel bekend oor dié kunstenaar nie. Ons weet wel hy is in 1914 in Rome gebore en het in 1947 Suid-Afrika toe gekom. Tydens sy verblyf in die land het hy in Johannesburg gewoon, waar hy die Da Vinci School of Fine Art bedryf het. Hy het drie solo-uitstallings gehou en ook aan verskeie groepuitstallings tot so ver as Namibië deelgeneem. Sdoya is bekend vir sy ekspressiewe gebruik van die paletmes waardeur hy olieverfskilderye met ligte impastohale geskep het, soos te sien in hierdie werke. Hoewel sy skilderye nie hoë pryse behaal nie, presteer hy bestendig in die veilingmark.

OUDERDOM 20ste eeu

WAARDE R2 000–R3 500 stuk

KONTAK walkerscott.co.za