Koning Na-aper

Lyn Nance van Port Elizabeth skryf Ek wil graag meer weet oor hierdie Copie d’ancien Sevres-bak. Dit is 8 cm hoog x 18 cm in deursnee (30 cm lank met die metaalhandgrepe). Hoewel dit as ’n nabootsing gemerk is, wonder ek steeds hoeveel dit werd is. Kan julle help?

Ainsley Taylor van Stephan Welz & Co. antwoord Chinese porselein was gedurende die 18de eeu een van die waardevolste kommoditeite in die Westerse wêreld. Dit is teen groot onkoste in groot getalle na Europa verskeep om in die aanvraag van die welvarende aristokrasie te voorsien. 

Augustus die Sterke, koning van Pole en keiser van Sakse, het besef watter potensiële fortuin hierdie “wit goud” inhou indien dit plaaslik vervaardig kon word. Daarom het hy verskeie wetenskaplikes en alchemiste gefinansier met die uitsluitlike doel om die resep vir die maak van porselein te ontwikkel.

Hoewel dit lank geduur het voordat hulle enige sukses kon behaal, het porseleinvervaardiging in 1710 by die koninklike fabriek in Meissen, Duitsland, begin. Die Franse het nie op hulle laat wag nie – koning Louis XV het hul eie porseleinfabriek by Vincennes gefinansier. Hierdie onderneming het gou uitgebrei na ’n nuwe perseel in Sevres en sedertdien is dié naam sinoniem met fyn porselein. Die fabriek by Sevres het gedy onder die leiding en stylinvloed van die koning se minnares, Madame de Pompadour. Soos die merk aandui is hierdie kersierooi bak met sy metaalmontering ’n 20ste-eeuse reproduksie van ’n 19de-eeuse artikel. 

OUDERDOM 20ste eeu 

WAARDE Slegs dekoratief

KONTAK swelco.co.za