Vir ’n teetjie of iets sterker

Sylvia van Staden van Boknesstrand, Oos-Kaap, skryf Ek sal graag meer oor hierdie pragtige teestel, asook die drank-en-sigaarkassie, te wete wil kom. Kan julle help? 

Ainsley Taylor van Stephan Welz & Co. antwoord Hierdie teestel dateer uit die vroeë 20ste eeu, toe porseleinware ’n kosbare besitting was. Onafhanklike versierders het destyds dikwels porseleinware by bekende vervaardigers aangekoop, dit met hul eie ontwerpe versier of net afgerond, en dan onder hul eie handelsmerk verkoop. Dit was juis die geval met jou teestel. Volgens die waarmerk is die stel by Porzellanmalerei Parbus, ’n klein ateljee in Beiere, geverf. Die eienaar was Leni Parbus, wat porselein begin versier het as ’n stokperdjie maar in 1904 haar eie ateljee oopgemaak het.

Jou klein drankkabinet is ’n pragtige voorbeeld van die Victoriaanse tantalus met drie kraffies, gemaak van eikehout. Die vernaamste kenmerk van dié kassie is dat dit gesluit kan word. Só kan jy jou drank uitstal, maar keer dat die verkeerde mense toegang daartoe kry. Die naam kom van die Griekse mitologiese figuur Tantalus, ’n koning wat sy seun tydens ’n fees aan die gode voorgesit het; as straf is hy verdoem tot ’n ewige lewe met kos en water naby, maar altyd net buite sy bereik.

OUDERDOM Circa vroeë 20ste eeu

WAARDE Tussen R500 en R700 vir die teestel; R2000 tot R3000 vir die tantalus

KONTAK swelco.co.za