Slaapkamer-bloutes

Jenny Gouws van Emalahleni skryf: Ek het hulp nodig met die meubelplasing in my slaapkamer; op die oomblik voel dit asof daar geen vloei is nie. Dis ’n groot vertrek – 6,5 x 6 m – wat op ’n toegeboude swembad-en-braai-area oopmaak.

Ek is mal oor my hangkaste en het dit al oorweeg om dit te verf; ek hou van Frans landelike dekor, maar my begroting is knap – tog wil ek dolgraag ’n groot kandelaber in die middel van die vertrek hang.

Ek het ook daaraan gedink om my bed teen die muur langs die deur te sit, maar daar is ’n uitbousel regs van waar die bed nou staan. Ek is mal oor die stoele, maar dit kort nuwe stoffering; ek is ook onseker waar dit moet staan. Enige raad?

Die Frans landelike styl wat Jenny Gouws so graag wil hê, is tydloos en klassiek.

Jenny Collins van Red Cat Design antwoord: Die grootte van jou slaapkamer is fantasties en jy het lieflike meubels, maar so baie individuele stukke belemmer wel die vloei in die vertrek. Oorweeg die volgende idees:

Uitleg

Een opsie is om die bed teen die muur met die deur te sit, soos jy voorgestel het (skets onder links). Ek het die hangkaste, spieëltafel en skoenrak geskei en dit teen teenoorstaande mure geplaas om “sy en haar”-aantrek-areas te skep. Só is jou bed en sitdeel meer sentraal in die vertrek en word dit geanker met ’n groot mat.

Nog ’n opsie is om jou bed teen die muur tussen jou patiodeure en die deur na die slaapkamer te sit (skets onder regs). Dit gee die beddeel minder privaatheid, maar skep twee onderskeie areas: ’n slaap-en-sitdeel, en ’n aantrekdeel. Twee hangkaste haaks met mekaar vorm ’n aantrekhoek, met jou skoenrak en spieëltafel verder af teen die muur. Die enkele hangkas staan effens verder weg sodat die een hoek nie te oorvol lyk nie. Hier staan die leunstoele ook by jou bed se voetenent met ’n mat wat die sit- en slaapdeel met mekaar verbind.

Bring kleur in

Indien jy die hangkaste verf, sal dit die vertrek onmiddellik nuwe lewe gee; boonop is dit nommerpas vir die Frans landelike styl wat jy graag wil hê. Ek beveel aan jy verf ook die spieëltafel en skoenrak sodat al jou meubels eenders lyk.

Nog planne vir kleur: Laat jou leunstoele herstoffeer, verf al die mure of net ’n aksentmuur agter jou bed, en bring strooikussings, bedlampies en ’n deken in. ’n Mat sal ook die ruimte ’n bietjie warmte gee, die uitgestrekte geteëlde oppervlak “breek” en patroon inbring.

As jy nie al jou meubels wil verf nie, oorweeg skakerings van blou, turkoois, ment of roos, wat goed saam met bruin meubels, die vloer en gordyne sal werk.

Beligting

Ek hou van die idee van ’n groot kandelaber in dié ruimte. As jou begroting dit toelaat, hang dit in ’n sentrale posisie bo jou bed en sitdeel en laat ’n elektrisiën gesonke ligte by jou hangkaste installeer. Anders kan jy net jou bestaande ligte met ’n pragtige kandelaber vervang.

Pakplek

In jou geval stel ek voor jy gebruik mooi mandjies; dit sal tekstuur byvoeg en is nommerpas vir die Franse voorkoms. Die meeste huiswarewinkels het ’n goeie verskeidenheid; stapel verskillende groottes op mekaar. Nog ’n opsie is om mooi ou reistasse en hoedebokse te koop en dit op jou hangkaste te stapel.

KONTAK redcatdesign.co.za