Annemieke Hiemstra van Johannesburg skryf Ek wil graag my kombuis ’n nuwe voorkoms gee, maar omdat my begroting beperk is, wil ek net mooimaak met verf. Is daar iets waarmee ek die leiklipteëls op my vloer kan verf? En kan ek Annie Sloan-verf op my swart melamienkaste gebruik?

Jani Goussard van Paint & Decor gee raad vir die vloer Dis baie dapper van jou om ’n leiklipvloer te wil verf! Die moeilikheid met leiklip is net dat dit afskilfer – enige verflaag wat jy aanwend, sal ook afdop omdat leiklip van nature so verweer. Daar is dus ongelukkig geen produk wat jou ’n permanente oplossing kan waarborg nie. Maar as jy tog die kans wil waag, kan jy die volgende probeer: Was jou vloere baie goed met suikerseep sodat dit stof- en olievry is; laat dit dan heeltemal droog word.

Sodra dit droog, silwerskoon en olievry is, kan jy Hydrolock van Dekro Paints aanwend. Dis ’n indringende produk wat aan die klip kleef en dit voorberei vir verf. Laat dit oornag droog word – sowat 12 uur behoort genoeg te wees.

Nou kan jy verf! Jou beste opsie is om ’n waterbasis-epoksiverf in die kleur van jou keuse te laat meng; gebruik ’n skaapwolroller (dit het ’n langerige pool). Verwe met ’n hoëglans-afwerking sal nie so maklik krapmerke wys nie, maar verf met ’n laer glans sal beter lyk op dié soort vloer met ’n oneweredige oppervlak. Indien jy glad nie kans sien vir die epoksiverf nie, kan jy ook akriel-muurverf kies (Paint & Decor se Luxury Lowsheen kan werk), maar jy sal dit gereeld moet oorverf indien dit skade of krapmerke kry.

Sterkte met jou projek!

Oor die kaste sê sy

Annie Sloan- verf werk pragtig op melamien! Toets dit net eers op ’n onopsigtelike deel; party oppervlakke bevat baie olies en die verf sal sukkel om daaraan te kleef. Gebruik in daardie geval ’n geskikte onderlaag. As jy nie ’n onderlaag aanwend nie, maar jou melamien nog effens glad is, kan jy dit liggies skuur met 100-grint-skuurpapier. Maak seker jou kaste is skoon en droog. Was jou kasdeure met suikerseep en laat dit droog word.

Besluit dan op ’n kleur – Paris Grey, Old White of Country Grey is baie gewild vir kombuiskaste. Maar jy kan enigiets kies wat jou oog vang en selfs detail byvoeg, soos met ’n stensil. Roer die verf liggies met ’n plankie voor jy begin.

Indien jy ’n gladde afwerking verkies, gebruik ’n Hamilton’s Ensign Perfection-kwas of ’n sponsroller. Vir ’n tekstuurryke afwerking sal Annie Sloan se ronde kwas of ’n Hamilton’s Fibreglass-kwas werk. Jy kan altyd liggies skuur indien dit agterna te grof na jou smaak lyk.

Doop jou verfkwas af en toe in ’n bietjie water terwyl jy verf – dit sal help om die verf egalig aan te wend. Twee lae is verkieslik sodat alles goed bedek word – wag dat die verf droog word tussen lae.

Wanneer jy gelukkig is met jou afwerking en al die verf droog is, kan jy Annie Sloan Lacquer oor al die kaste aanwend – twee lae sal dit mooi afrond. Dit het ’n mat afwerking wat pragtig in kombuise werk. Roer deur voor jy begin en verdun die eerste laag met sowat 30% water sodat die verf dit maklik absorbeer. Onthou, as al die moontlikhede jou oorweldig, kan jy altyd by jou naaste Annie Sloan-verskaffer gaan inloer vir raad!

KONTAK paintdecordiy.co.za

Die Tuis-redaksie probeer alle vrae beantwoord, maar kan nie op elkeen persoonlik reageer nie. Tuis behou die reg om vrae te redigeer