In die Tuis-kantoor in Kaapstad is water spaar ’n obsessie. Almal help dink aan planne, en ruil wenke onder mekaar uit. Toe besluit ons: Begin ’n lys van dié beste wenke, en kry kenners se mening oor voorstelle wat ons laat frons het. Want kan jy byvoorbeeld regtig jou klere met ’n vodka-mengsel spuit om dit te verfris, soos iemand al voorgestel het? Hier is van die slimste idees wat ons nog gesien het – en dis eenvoudig genoeg dat enigiemand dit kan doen. Ons sal die lys gereeld bywerk, met die nuutste idees boaan.

Elke druppel tel – werk slim, wees veilig, en spaar water!

Wasgoed

  • Die “wonder wash”-wasmasjien gebruik net 6 liter water vir ’n bondel van sowat 2,2,kg. Jy draai die wasgoeddrom vir sowat 2–3 minute met die hand, en bespaar terselfdertyd ook elektrisiteit.
  • Draagbare wasmasjiene wat eintlik vir kampdoeleindes ontwerp is, is ook redelik doeltreffend en gebruik sowat 15 liter per bondel van 2 kg. Hulle het van die rakke afgevlieg, so as jy een raakloop, koop!
  • Tuis se redakteur, Wicus Pretorius, het dié middelslag-“wheelie bin” gekoop by Mambo’s, en tap nou sy wasgoedmasjien se water daarin uit. Van daar gaan die water met ’n emmer toilet toe. Sy stopkrane is al weke lank toegedraai! Maar wees gewaarsku – water is swaar. 1 liter weeg 1 kg; te veel gryswater kan die drom se as beskadig. Maak dit net halfpad vol met water, dan kan jy dit boonop makliker skuif.
  • As jy verkies om met die hand te was, maak gebruik van ’n Spindel-wasgoeddroër om tot 90% van die water te verwyder. Die gryswater loop boonop uit ’n kraan aan die onderkant van die droër, wat jy dan weer kan gebruik

Skottelgoed

  • As jy ’n bietjie moeg raak van al die skottels en bakkies gryswater wat jy in emmers gooi om die toilet te spoel, probeer gerus hierdie Josep Joseph-skottel (Joseph Joseph Wash & Drain Washing Up Bowl R709, yuppiechef.com)  met ’n uitlaat wat nes ’n gewone wasbak s’n werk. Dis duur, maar dit sal jare lank hou. Gebruik dit sommer in jou kombuiswasbak. As jy klaar gewas is, sit jy eenvoudig die skottel op ’n emmer en draai die prop oop. Die water loop netjies in die emmer sonder mors of spat, en die skottel gaan weer terug kombuiswasbak toe.
  • As jy ’n sproeikop aan jou mengkraan koppel, bespaar jy water wanneer jy groente afspoel – dit gee ’n sterker stroom, maar gebruik steeds min water sonder om meer water te gebruik. Ons kreatiewe redakteur het dit al 14 jaar gelede by On Tap gekoop, en jy skroef dit sommer self aan. Met die Elbow Action-krane van Cobra mors jy ook minder water, want jy kan dit vinnig met die elmboog toestamp – selfs as jou hande vol is. Gerieflik as jy nie met deegbesmeerde hande aan ’n kraan wil vat nie.
  • Maak seker jou krane mors nie ’n enkele druppel nie! Dit kan moeilik wees om die kraan net lank genoeg oop te draai met dié soort opdruk-krane. Los die probleem vinnig op deur ’n rekkie om die kraan vas te maak – nie net keer dit dat jy die kraan te wyd oopdraai nie, dit maak ook blitsvinnig toe sodra jy nie aktief die kraan opdruk nie.
  • Nog ’n oulike idee vir groente afspoel en hande was is die slim plan met ’n gewone plastiekbottel. Maak ’n klein gaatjie onderin die bottel en druk ’n strooitjie in. Druk liggies vir ’n klein stroompie water, of draai die prop effens oop vir ’n sterker stroom. Só gebruik jy baie minder water as wanneer jy jou krane oop- en toedraai. Verseël die gaatjie waar die strooitjie ingaan met gewone Prestik – dis kosveilig, en waterdig. Maak net seker die bottel is droog wanneer jy dit aansit.
  • Vir skottelgoed kan jy ook skottelgoedseep en water in ’n spuitbottel meng, wat dit feitlik onnodig maak om die kraan oop te draai. Vee jou borde met kombuispapier af, en spuit dit dan met jou seepwatermengsel. Spoel die skottelgoed in ’n klein bak skoon kookwater af, wat jy ook kan hergebruik.

In die badkamer

    • ’n Stort van slegs 90 sekondes klink dalk kort, maar teen gewone druk gebruik dit steeds 15 liter skoon drinkwater. In dié video wys Shafeek Davids hoe jy met net 3 liter water kan stort en hare was – dis vyf keer minder water as ’n stort van 90 sekondes!
    • Verruil die emmers in die stort vir ’n skottel waarin jy kan staan. So vang jy baie meer water op as in emmers. Dis ook lekker vir voete was heel aan die einde. En daarna kan jy die toilet spoel met die water wat jy opgevang het.
    • Gebruik ’n hoëdruk-spuitbottel (soos die Red Rhino Eco Shower, te koop by BUCO teen R199) as ’n stort. Een leser sê sy en haar man kan hiermee op met net 1 liter water per dag stort!
    • Gebruik ’n produk soos Wee Pong (deur Sannitree) of Loo-Me (beskikbaar by Shoprite/Checkers) as ’n alternatief as jy nie jou toilet wil spoel nie. Dit is ’n ensiem-spuitoplossing wat urine se onaangename reuke afbreek. Spuit dit in en om die toiletbak ná gebruik. Gooi die toiletpapier in ’n aparte drommetjie.

    Gryswater

    Gryswater wat nie binne 48 uur gebruik word nie, kan begin sleg ruik weens die organiese materiaal in die water wat uit jou wasmasjien of stort loop. As jy gryswater vir langer as 48 uur wil stoor (in ’n gryswatertenk of selfs in jou bad), gebruik ’n produk soos Biodyne SmellAway (te koop by tuinwinkels soos Stark Ayres, Cape Garden, Stodels en AgriMark) om die slegte reuke te bekamp.

    Werk só sonder water

    • Gebruik waterlose handreiniger om jou hande te was pleks van seep en water.
    • Maak seker jy het ’n voorraad babalappies (“baby wipes”) – dit sal jou help vars voel op dae dat jy nie regtig hoef te stort nie.
    • Gebruik weggooilappies (“disposable wipes”) om toonbanke skoon te hou.
    • Asyn is ook ’n goeie alternatief om toonbanke en ander oppervlakke higiënies te hou. Gebruik kombuispapier – só gebruik jy nie ’n lap wat jy later moet was nie.
    • Bakpoeier kan help om jou klere vir langer skoon te hou. Meng dit met ’n klein bietjie water tot ’n pasta en smeer dit aan vuil- of sweetkolle. Hang die klere op die draad om droog te word en skud eenvoudig die bakpoeierpasta af.
    • As jy glad nie jou toilet wil spoel nie, is ’n asblik vir babadoeke ’n goeie alternatief. Die Tommee Tippee Sangenic Tub (R399 op takealot.com) verseël enigiets wat jy daarin gooi in ’n individuele sakkie, wat beskerm teen slegte reuke en bakterieë.

    Bly veilig en gesond

    • Gebruik Milton in die water waarin jy jou groente en vrugte afspoel om die risiko vir listeriose en ander kosverwante siektes te verminder.
    • As jy drinkwater uit ’n reënwatertenk kry, kook dit of behandel dit met watersuiweringstablette. Dis beskikbaar by kampwinkels en apteke.
    • Belê in ’n brandblusser as jy nog nie een het nie – anders moet jy in die geval van ’n brand kosbare water gebruik.

    As Dag Zero wel aanbreek ...

    Foto: Die Facebook-groep "Watershedding Cape Town".

    Maak seker jy het ’n 25 liter-houer om jou waterrantsoene te vervoer. Die kanne raak vinnig swaar, en ons hou van dié eenvoudige idee om dit in ’n tuisgemaakte stootwaentjie te vervoer.