VRA OP FACEBOOK
Het jy ’n dringende vraag wat net nie kan wag nie? Sluit dan aan by ons Tuis|Home-Kennersgroep op Facebook sodat die span, kundiges en ander lesers kan help. Stuur jou vrae na kenners@tuis.co.za.

Staal jouself

Dieter Geiger van Kaapstad skryf Ons is besig om ons 60 jaar oue huis op te knap en wil graag die staalraamvensters behou. Dis geverf en nog in ’n goeie toestand, al is daar ’n bietjie oppervlakkige roes. Is dit die moeite werd om die verf te verwyder, roesplekke te behandel en dit dan te laat poeierbedek? Of moet ons maar die vensters vervang?

Wynand Smit van JambMax antwoord Daar is twee benaderings: Die eerste is om die vensters in die muur te los en dit in situ te herstel. Jy sal al die ou verf eers moet verwyder; behandel dan die rame met ’n roesweerder soos Duram se NS1 Rust Buster. Wag totdat dit heeltemal droog is en wend ’n goeie onderlaag aan, gevolg deur glansverf in die kleur van jou keuse. Andersins kan jy die vensters heeltemal uit die muur haal en dit laat skoonmaak en galvaniseer voordat jy dit laat poeierbedek. ’n Poeierdeklaag is geneig om ná ’n ruk te begin verdof; daarom verkies ons om staalraamvensters te verf.

KONTAK jambmax.co.za

Koel en kalm

Rina Francis van Edenvale, Gauteng, skryf Die soldervertrek in ons huis raak bitter warm. Ons het glaswol-isolering tussen die dakteëls en plafon – wat met hout beklee is – ingesit. Daar is vensters aan weerskante van die solder en die dak is grys geverf. Wat kan ons nog doen om die ruimte doeltreffend te verkoel?

Mark Russell, hoof van tegniese ondersteuning en bemarking by IsoBoard, antwoord Daar is ’n paar belangrike oorwegings waarna jy moet kyk:

1 HITTE-OORDRAG

Die solder is hoër as die bome wat natuurlike skadu sou kon verskaf, met ’n groot, donker dak-oppervlak wat hitte absorbeer. Hitte kom die ruimte ook binne deur die vensters en deure aan die ooste- en westekant. Ons stel voor jy bring terugtrekbare sonskerms buite, en gordyne of blindings binne voor die deure en vensters aan vir koelte. Ek sou ook weerkaatsende sonfilm op die glas oorweeg omdat die glas in kothuisvensters gewoonlik net 3 mm dik is en daarom nie veel weerstand teen hitte-oordrag kan bied nie.

2 VENTILASIE

Die doel van plafonwaaiers is om lug binne die soldervertrek te sirkuleer. In dié geval kan die warm lug nie ontsnap nie, omdat die vensters aan weerskante te ver van mekaar is vir behoorlike kruisvloei-ventilasie. Dit is ook waarskynlik dat die binnetrap na die solder warm lug van onder af boontoe lei, waar dit dan in die soldervertrek onder die geïsoleerde plafon vasgevang word. Die warm lug moet kan ontsnap. Omdat die plafon plat is by die hoogste punt, is daar ’n holte tussen die plafon en die dak se nok. In dié ongeïsoleerde ruimte kan die lug gedurende die dag tot 60 °C (selfs hoër) styg, en dié hitte word na die solderruimte uitgestraal. Ek sou jou aanraai om ’n dakspesialis te spreek om te bepaal watter soort dak-ventilasiestelsel die beste sal werk vir dié deel bo die plafon. As die solder steeds onaangenaam warm is nadat jy skadu by die vensters geskep het en die plafon en die holte daarbo geventileer het, stel ons voor jy installeer IsoBoard teen die bestaande plafon. Omdat daar reeds isolasie is, behoort 30 mm dik IsoBoard die nodige verskil te maak, maar 40 mm sou beter wees.

KONTAK isoboard.com