Shannon Lowe het self ’n sonkragstelsel by sy ekovriendelike huis in Calitzdorp installeer. Hier is sy wenke.

Stap 1

Eerstens moet jy krag opwek. Dit word gedoen met sonpanele, beskikbaar vanaf R8/watt ; die grootte van jou huishouding sal bepaal hoeveel watt jy nodig het – die Lowes gebruik altesame 3,2 kW.

Stap 2

Sit ’n batterybank aanmekaar – dis waar jy jou sonkrag sal be^re. Die grootte hang af van hoeveel energie jou huishouding nodig het sodra die son sak. Groter is beter – so maak jy voorsiening vir tye met swak weer wanneer sonkragproduksie beperk is. 

Stap 3

Volgende word die panele verbind aan ’n laai- beheerder, oftewel ’n MPPT (Multiple Power Point Tracking Charger), om die hoeveelheid krag wat die panele lewer, te meet en jou huis se batterye te laai. Die MPPT is basies ’n slim herlaaier wat so veel moontlik krag van die sonpanele tap.

Stap 4

Sodra die batterybank ten volle gelaai is, moet jy jou batterye aan ’n omskakelaar koppel om die batterye se gelykstroomkrag om te skakel na 220 V-wisselstroomkrag waarmee die meeste elektriese toestelle werk. Omskakelaars wissel van 1 kW tot 10 kW, afhangend van die totale hoeveelheid krag wat jy op een slag nodig het. As jy byvoorbeeld gelyktydig ’n wasmasjien, TV, ligte en ’n stofsuier wil gebruik, kan ’n 3 kW-omskakelaar voldoende wees.

Maar ’n 5 kW-omskakelaar sal jou meer vryheid gee vir wanneer jy die dag ook wil beskuit bak, die swembad wil terugspoel en die lugreëlaar wil aansit. 

Die Lowes se sonkragstelsel met die omskakelaar, laaibeheerder, battery- en verbruiksmonitor.