Estelle Steyn van Pretoria skryf: Ons houtlatte oor ons dek, met deurskynende poliuretaan-dakplate bo-oor. Die muur waarteen die plate geïnstalleer is, het ’n tekstuur-pleisterafwerking. Ongelukkig het die bouer drooggemaak: Daar’s ’n gaping tussen die plate en die muur; ek kan plekplek amper my pinkie deurdruk.

Ek wil nie hê die houtmeubels op my dek moet skade opdoen nie, maar ek kon tot dusver nie ’n produk opspoor wat aan die poliuretaan en die muur kleef om ’n waterdigte las te skep nie. Boonop is die plate geriffel, wat die taak nóg moeiliker maak. Is daar enige raad?

Heinrich Ehlers van Sansbury Unparalleled Renovations antwoord Gelukkig is daar ’n oplossing: Sit ’n strook aluminium-geutlap langs die muur en oor die rand van die dakplate om die gaping toe te maak.

Dié gewilde opsie sal tyd en moeite spaar. Waar die geutlap en die muur bymekaarkom, moet jy ’n waterdigtingsemulsie aanwend om te keer dat water daar deurkom. Ek stel voor jy gebruik ABE Super Laycryl saam met ABE Membrane; die meeste ysterwarewinkels hou dié produkte aan. Volg die aanwysings op die verpakking.

KONTAK sansbury.co.za