Paul Vogel van Pretoria skryf Op bladsy 36 van die November 2019-uitgawe het die huiseienaars steierplanke vir hul boekrak gebruik. Kan julle sê hoe hulle dit teen die muur gemonteer het om die boeke se gewig te dra?

Tuis se DIY-ghoeroe, Deon de Goede, antwoord Onlangs, toe ek soortgelyke rakke in my eie huis opgesit het, het ek 12 mm-gate in die middel van elke steierplank geboor, 10 mm-metaalstawe in die gate gekap en só afgesaag sodat daar nog 120 mm van die staalstaaf by die hout uitsteek.

Hou dan die rak waar jy dit teen die muur wil hê en merk waar jy gate vir die stawe in die muur moet maak. Boor 12 mm-gate in die muur, maar teen ’n effens afwaartse hoek.

Skuif die stawe in die gate tot die rak teen die muur is. Die rak gaan nou effens skuins sit; buig dit liggies af tot dit horisontaal is.