Melanie Slabbert van die Paarl skryf Wat behels die basiese versorging van ’n rusbank? Ek skud die kus­sings af en toe uit; is daar nog iets wat ek moet doen?  

Amy Whittam van La-Z-Boy antwoord ’n Rusbank bied nie net gemaklike sitplek vir jou en jou gesin nie, dit kan ook die apploustrekker in jou sitkamer wees. Daar is ’n paar dinge wat jy op ’n weeklikse, maande-likse en jaarlikse basis kan doen om jou rusbank eksie-perfeksie te hou:

1 WEEKLIKSE TAKE 

As jou rusbank los kussings het, maak tyd om dit op te pof: Plaas die kussing op een sy en druk-druk die sye van die linker- en regterkant binne­toe. Herhaal die proses met al vier sye, skud die kussing om die opstopsel eweredig te versprei en stryk dan die oortreksel glad met jou hand. Maak seker die rusbank staan op ’n gelyk oppervlak, vee die stoffering glad en verwyder enige wolletjies.Borsel jou rusbank weekliks met ’n sagte borsel: Dit stimuleer die pool en help om oneweredighede en kleurverskille weens druk op die materiaal uit te stryk. Moenie ’n leerbank borsel nie; stof dit liewer weekliks af.

2 MAANDELIKSE TAKE

Stofsuig jou rusbank deeglik en draai die kussings een keer elke maand om. Sit jou stofsuier op die laagste verstelling en gebruik die borsel-hegstuk sodat jy al die hoekies en voue kan bykom. Stofsuig die kussings, haal hulle van die bank af en stofsuig dan ook goed daaronder. Mense en troeteldiere se velreste en hare, asook myte, is geneig om op rusbanke te beland – dit kan sleg wees vir jou gesondheid as jy die banke nie gereeld stofsuig nie, veral as jy ’n allergielyer is.  

3 Jaarlikse take 

Kry ’n professionele firma om jou rusbank een keer ’n jaar skoon te maak. Moenie dit self probeer was nie – dit kan kleure laat vloei en as die opstopsel klam word, kan dit vlekke en interne skade veroorsaak.

KONTAK la-z-boy.co.za