Gerda Kriegler van Hexriviervallei skryf Ek het ’n metaalstoel wat ek graag wil mooimaak. Waarmee kan ek dit skoonmaak (dis nogal verweer) en watter verfprodukte beveel julle aan?

Nadine Vosloo van Tjhoko Paint antwoord Tjhoko Paint is jou oplossing!

Wat jy nodig het:

  • 2 stukke kaasdoek (of enige skoon, kleurlose lap wat vog absorbeer)
  • 750 ml lakverdunner
  • 50 mm-verfkwas van goeie gehalte
  • Tjhoko Paint in die kleur van jou keuse

Volg dan dié maklike raad:

Maak ’n lap nat met die lakverdunner en vee die stoel af. Wag sowat 20 minute of tot die verdunner heeltemal droog is voor jy begin verf. Wend twee lae verf aan; wag tot die eerste laag droog is voor jy die volgende een aanwend.

Dis belangrik dat jy glasuur oor buiteoppervlakke aanwend, want dit maak die verf UV- en waterbestand. Boonop skep dit ’n subtiele satynafwerking. Wag minstens vier uur nadat jy geverf het voor jy die glasuur aanwend. Tjhoko s’n het ’n waterbasis, so jy kan later weer daaroor verf. 

So maak jy:

  • Verdun die Thjoko Clear Glaze in ’n ander houer met sowat ’n derde water.
  • Gebruik ’n skoon, kleurlose stuk lap (kaasdoek of T-hempmateriaal) en maak dit klam met water. Druk oortollige water uit.
  • Doop die klam lap in die glasuurmengsel en druk effens droog.
  • Vee egalig oor die geverfde oppervlak.
  • Werk in ’n area met goeie beligting om seker te maak jy bedek die hele area.
  • As die stoel aan direkte sonlig en die elemente blootgestel gaan wees, is drie lae aan te beveel (wag 30 minute ná elke laag).
  • As die lap droog of taai raak, kan jy dit in water afspoel en die proses herhaal.
  • Wanneer jy die glasuur op ’n plat oppervlak (soos ’n tafelblad) aanwend, moet jy 48 uur wag voor jy die oppervlak kan gebruik.

KONTAK tjhokopaint.co.za