Jou eie galery

Benita van der Walt skryf: Ons het na ’n aftreeoord getrek en sit met soveel geraamde foto’s wat my man wil ophang, maar hulle verskil in kleur en grootte. Party het dun rame en ander breë rame; van die prente is wit met ’n goue raam, ander weer room of bruin. Hoe kan ek maak?

Jenny Collins van Red Cat Design antwoord: Dit kan nogal moeilik wees om ou geraamde foto’s in ’n nuwe ruimte te laat werk, veral as die nuwe woning kleiner is. Dit klink asof ’n fokusmuur of verskeie fokuspunte deur die huis goed kan werk in jou geval.

Wanneer jy verskillende foto’s saam groepeer, is dit belangrik om die “gemene deler” te vind. As die rame verskillende kleure en groottes is, fokus op die inhoud van die foto. Jy kan byvoorbeeld groepfoto’s van vakansies saam gebruik by een fokuspunt, en familielede by ’n ander.

Lê al die rame neer en speel rond met die groottes en kleure om te sien watter rame werk die beste saam.

Laastens kan jy stukke koerantpapier so groot soos die rame uitknip en dit teen die muur plak. Dit sal jou ’n idee gee van hoe jou galerymuur gaan lyk – dié truuk werk goed en sal sorg dat jy presies weet wat moet waar kom voor jy begin spykers inkap.

KONTAK redcatdesign.co.za