Die uitdaging

Karen Nel van Johannesburg skryf Ná my egskeiding het ek na ’n meenthuis met ’n L-vormige tuin getrek. Ek het twee miniatuur-worshonde en ’n Engelse bulhond. Die klein tuin is meer hanteerbaar, veral omdat ek nooit ’n gesoute tuinier was nie, maar ek wil graag weet hoe maak ’n mens tuin as jy honde het.

Die oplossing

Yvonne Joao van Jardinier Landscape Design & Décor antwoord Met die regte beplanning kan jou tuin maklik omskep word in ’n ruimte waar jou viervoetkinders gelukkig en tuis sal wees. Dié ontwerp kan vir jou werk:

1 As jy graag ’n lappie gras wil hê...

  • Kunsgras is perfek vir kinderspeelplek en is boonop troeteldiervriendelik. Daar is verskillende diktes, met pryse van taamlik duur tot bekostigbaar. Dit hoef net af en toe goed gevee te word. As dit onder ’n skadunet of boom is, sal dit ook nie te warm word nie.
  • Plant ’n onkonvensionele “grasperk” deur platgroeiende, spreiende grondbedekkers te gebruik. Die meeste is bestand teen ligte voetverkeer en dit verskaf ’n rustige groenigheid. Onthou net, dié plante moet gereeld gevoed en natgemaak word.
  • Regte gras, soos inheemse buffelsgras, groei stadiger en hoef dus minder gesny en versorg te word – maar sorg dat jy dit netjies hou.

2 Lê ’n paadjie

Paadjies is nie net vir mense nie, dis vir honde ook! Sonder paadjies draf ’n hond gou onooglike stroke in ’n grasperk uit. Dit kan terselfdertyd ingespan word om die oog na ’n fokuspunt te lei. Oorweeg plaveiblokke van sement met grondbedekkers tussenin om die voorkoms te versag.

Beplant die blombeddings alkant van die tuinpaadjie dig genoeg om te verseker jou hondekinders bly op die paadjie en uit die beddings.

Wenk As jy struike teen jou grensheining wil plant, laat genoeg spasie tussen die struike en die heining sodat honde genoeg beweegruimte het sonder om oor plante te klouter terwyl hulle die werf patrolleer!

3 Skep ’n waterfokuspunt

Dit sal goed werk aan die eindpunt van die strook teen die grensmuur. Bou dié deel op sodat die verhewe vlak ’n interessante element in die tuin kan wees. Die bonus van so ’n fokuspunt is dat dit heeldag lank toegang bied tot water – nie net vir drink nie, maar ook vir afkoel op warm somerdae. Plant gras rondom die waterfokuspunt vir ’n lekker sagte gevoel onder jou honde se pote.

4 Oorweeg dié plante

1 Olyf (Olea europaea ‘Mission’)

2 Laventelboom (Heteropyxis natalensis)

3 Rivierverfbos (Indigofera jucunda)

4 Heuningklokkiesbos (Freylinia tropica)

5 Wit ‘Iceberg’-roos

6 Roosmaryn of wit engelvlerkies (Oenothera lindheimeri ‘White Butterfly’)

7 Persklokkies (Dyschoriste thunbergiiflora)

8 Agapanthus africanus

9 Plectranthus ‘Mona Lavender’

10 Stachys byzantina

11 Grootwilde-iris (Dietes grandiflora)

12 Mazus reptans

13 Wildeknoffel (Tulbaghia violacea)

14 Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides) en rankroos


Veiligheid

’n Goeie grensmuur is ’n moet om honde veilig binne-in die erf te hou. Grensmure is dalk nie altyd so mooi nie, maar jy kan materiale oorweeg wat by die styl van jou huis pas.

Skaduwee

Honde moet skadu hê, aangesien hulle gousonbrand en hitte- uitputting kan opdoen.As jy nie bome het nie,oorweeg skadunette.