Terracotta-vloerteëls deur Shawtec

Foto’s Francois Oberholster Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Angelo en Emmy Frasco en hul dogter Juliet

WAAR Crofters Valley, Noordhoek

GROOTTE 0,4 ha

Toe die broers Angelo en Alex Frasco met twee susters, Emmy en Elizabeth Schofield, trou, het hulle waarskynlik nooit gedink dat hulle eendag ook saam sou woon nie. Maar sowat drie jaar gelede het die twee gesinne – en ’n ouma aan weerskante van die stamboom – besluit om saam ’n eiendom te koop sodat hulle hul hulpbronne kon saamvoeg en as ’n klein gemeenskap kon leef, met genoeg speelplek vir hul drie kinders.

“Party mense het gedink ons is gek, maar ons het geweet dit kan werk. Ons verstaan mekaar se behoeftes en beperkings goed, wat dit maklik maak om so saam te bly,” sê Angelo.

Hulle het agt jaar gelede begin huis soek in die lowerryke Kaapse buurte Constantia en Tokai, maar elke potensiële eiendom het sy eie uitdagings gebring. En toe ’n gastehuis met nege slaapkamers in Crofters Valley, Noordhoek, in die mark kom, het dit nie net in hul begroting gepas nie, dit was ook presies wat hulle nodig gehad het. “Ek en Elizabeth het naby Simonstad grootgeword waar ons as kinders die wonderlikste vryheid en veiligheid geniet het. Ons kon na hartelus strand toe gaan en perdry,” vertel Emmy. “Hierdie eiendom was ook naby die see en dit het dieselfde ‘landelike’ atmosfeer gehad.”

Ofskoon die huis hulle perfek gepas het, het die kooptransaksie ’n paar uitdagings gebied: Albei gesinne moes hul bestaande eiendomme verkoop en ekstra finansiering vir die aankoop bekom. Hulle het ’n trust gestig waarin elke gesin se bydrae tot die aankoop as hul persentasie van die eienaarskap aangeteken is. Ná die oordrag het Angelo se broer Alex en dié se vrou, Elizabeth, ingetrek om die eerste fase van die opknap aan te pak.

Albei paartjies stem vandag saam dat die moeilikste en tydrowendste deel van die hele projek was om die planne vir hul veranderinge goedgekeur te kry. Dit het onder meer goedkeuring vir nog twee afsonderlike blyplekke wat vir die twee oumas op die erf gebou moes word, asook ’n paar veranderinge aan die hoofhuis, behels. Hulle het nie amptelik onderverdeel nie, maar die hoofhuis is só ontwerp dat elke gesin privaatheid het.

Vandag huisves die eiendom twee gesinne, elk in ’n helfte van die hoofhuis, asook ouma Dora en ouma Janet, elkeen in haar eie kothuis. Alex, Elizabeth, en hul kinders, Max en Cruz, het hul deel eerste voltooi en in Februarie 2017 ingetrek. Angelo, Emmy en hul dogter, Juliet, het later bygekom en in Junie 2019 ingetrek.

Vir Angelo en Emmy was dié opknap hul eerste kans om ’n huis in te rig presies soos hulle dit wil hê. Hul vorige blyplek, ’n woonstel in die Kaapse middestad, het nie veel werk nodig gehad nie, en dit het finansieel nie sin gemaak om soveel werk aan die woonstel te doen soos wat hulle aan hierdie huis gedoen het nie. Maar hier in Noordhoek was dit tyd om te droom.

Die afgevlakte vloer in die leefareas is met ses lae Sovereign Seal verseël. Die kroegstoele het nuwe lewe gekry met ’n laag geel verf en helder nou die hele ruimte op. Muurteëls van Malls Tiles; kunswerke deur Desiree Smit van Whimsical Collection; kroegstoele van Bedfellows; geel papegaai van MRP Home

DIE KOMBUIS

Wat eers ’n smal kombuis met ’n lae plafon was, is nou ’n pragtige oop ruimte met ’n uitsig op die tuin. Die plafon is uitgehaal om die kappe te ontbloot sodat die vertrek ligter en ruimer kon voel. Vir die vloer is seshoekige terracotta-teëls gekies wat by die vorm van die muurteëls pas.

“Die blou teëls is ’n huldeblyk aan my Portugese wortels,” sê Angelo, “en ’n herinnering aan ons reise in die Mediterreense streek. Ons het ’n rustige leefstyl, en die koel, kalm kleure in ons huis weerspieël dit.” Hulle sou aanvanklik die hele kombuis oordoen, maar nadat die Frasco’s die gelamineerde vloer vervang het, was nuwe “ysterware”, soos handvatsels, skarniere en ’n treffende koper-skopplaat al wat nog gekort het vir ’n vars voorkoms. Hulle het ook die wasbak en krane vervang. 

LEEFVERTREKKE

’n Skuurdeur wat die kombuis en sitkamer van die res van die huis skei, is pasgemaak en geverf deur The Barn Door Shack. Die Frasco’s het besluit op koperbykomstighede om te kontrasteer met die blou deur en die Mediterreense gevoel te versterk.

Al die slaapkamers het eers op ’n lang stoep oopgemaak. Dié ruimte is toegebou om plek te maak vir ’n studeerkamer vir Emmy en ’n lang, breë gang wat al die slaapkamers verbind. Die meeste van hul meubels is erfstukke, mark-vondste of tydens hul reise aangeskaf. Sommige is vernuwe met ’n laag verf, ander het hul oom Jorge Esteves se meubelsaak, Dynamic Furniture Concepts, vir hulle herstoffeer. ’n Stewige houtlessenaar en -stoel is uit ’n opbergplek gehaal en in ’n grys-en-geel kleurskema geverf as fokuspunt in die studeerkamer.

Die gang kry baie natuurlike lig, en die breë vensterbanke is die perfekte plek om in die wintersonnetjie te sit en bak. Wat net ’n dooie ruimte kon wees, is nou ’n knus ekstra leefruimte.

Sherman die optelhond geniet die ekstra-breë gang – dis die beste lees- en speelplek op reëndae. Die hele gesin kuier graag saam op die dek .

Gedeelde blyplek Om rande saam te gooi vir groter koopkrag is ’n slim plan wat beter moontlikhede ontsluit, maar as jy en ’n derde of vierde party saam in eiendom wil belê, hou dit ook uitdagings in. Doen jou huiswerk en gaan ooreenkomste aan wat al die partye sal beskerm.

Stephan Osborne van Thomson Wilks het die volgende raad:

1 ’n Trust, soos die een wat die Frasco’s opgestel het, is een manier om ’n eiendom vir gemeenskaplike gebruik te koop. Die trust is die eienaar en die eiendom word geregistreer in die naam van die trust, waarvan die individuele mede-eienaars die trustees is. Laat ’n prokureur die trust opstel en die koopakte sorgvuldig formuleer, want dit reguleer die regte en bevoegdhede van al die partye, asook die prosedure by dood of by verkoop van die eiendom.

2 Enige eiendom kan gemeenskaplik met ander mense gedeel word. Maar as die bedoeling is dat elke mede-eienaar ’n afsonderlike belegging in die bepaalde eiendom het, kan die eienaars dit laat onderverdeel of ’n deeltitel register oopmaak: Dit beteken die eiendom word verdeel in twee of meer deeltiteleenhede soos by ’n woonstelblok. As jy die erf onderverdeel, kan twee of meer aparte huise daar gebou word, met individuele eienaars. Dit is dan belangrik om bouregulasies, beperkings in die titelakte en sonerings-voorwaardes op die eiendom na te gaan voor jy die koopaanbod finaliseer. Begin deur die bestaande eiendomsakte by die aktekantoor te bekom, en kry van meet af regsadvies.

3 Die beste praktyk (afhangend van sonering en moontlike beperkende titel-voorwaardes) is om ’n deeltitelontwikkeling wat uit twee of meer eenhede bestaan, te registreer. Weens soneringsbeperkings kon die Frasco’s nie onderverdeel nie; hulle bly dus tegnies almal in een huis met een adres.

4 As jy wel ’n deeltitelontwikkeling registreer, word jy gebind deur die spesifieke reëls uiteengesit in die Deeltitelwet, wat onder meer bepaal dat ’n landmeter diagramme moet opstel vir registrasie by die aktekantoor en ’n argitek bouplanne moet teken wat deur die plaaslike owerheid goedgekeur moet word. As jy ’n goeie span gebruik wat ’n argitek (of tekenaar), landmeter en prokureur insluit, kan jy tyd en geld bespaar.

5 Jou deeltitelontwikkeling benodig ’n regspersoon, wat by registrasie gestig word. Bestuurs- en gedragsreëls moet vir die regspersoon opgestel word; jaarvergaderings en geouditeerde finansiële state is byvoorbeeld verpligtend. Jy sal ’n begroting moet opstel om die heffing te bepaal wat elke eienaar moet betaal vir onderhoud van gemeenskaplike dele (soos die swembad en tuin) en om huiseienaarsversekering te betaal.

KONTAK thomsonwilks.co.za

In die hoofslaapkamer se en suite-badkamer skep mosaïekteëls ’n hammam-effek. Teëls van Douglas Jones

Die hoofslaapkamer het ’n spits dak met dakvensters wat al die natuurlike lig moontlik benut. Angelo het die bed ontwerp en laat maak deur Dynamic Furniture Concepts; die donker hout is geverf om in te skakel by die kamer se palet. Blokkies vir die vloer is op Gumtree gekoop; omdat dit so duur is, is dit net in die kamers gebruik. Toe die paartjie agterkom hulle het te min ligte blokkies, het hulle eenvoudig ’n donker rand teen die mure gemaak. Slim!

Kussings, grys deken en mat van MRP Home; hangligte van Eagle Lighting

Die mosaïekteëls in die gastebadkamer eggo die Mediterreense tema.badkamers

Handdoek van The Cotton Company

Die stortdeure in Juliet se badkamer en die gastebadkamer is uitgehaal voor die storte behoorlik verseël is en mosaïek-vloerteëls gelê is. Daarna is die deure weer ingesit. Die hoofbadkamer herinner aan die Turkse baddens wat die Frasco’s al besoek het en reekseinde-mosaïekteëls van die Douglas Jones-pakhuis in Dieprivier skep hier ’n eksotiese spa-effek.

Oor die hoofslaapkamer se en suite het die paartjie lank en diep gedink. Op die ou end het hulle ’n deel van die slaapkamer afgestaan ter wille van ’n meer funksionele badkamer. Angelo het die losstaande houtbad op Gumtree gekoop by ’n entrepreneur wat dit uit die Ooste invoer – ongelukkig het hy nie meer die besonderhede nie.

VERSKAFFERS

Bedfellows 021 788 4166

Douglas Jones 086 166 7242

Dynamic Furniture Contracts 021 511 9518

Eagle Lighting 021 424 4071

Malls Tiles 021 510 5500

MRP Home 0800 212 535

Shawtec 021 976 8089

The Barn Door Shack

The Cotton Company 060 505 7894

Whimsical Collection 071 355 8873