Raadop

Anthea Fortuin van Mosselbaai skryf Ek is gelukkig met my kombuis se basiese uitleg en die kas-karkasse is nog in ’n goeie toestand. Hoe kan ek die vertrek vernuwe sonder om te bou of te breek?

Andrew Milne van Ucan antwoord Jy kan ’n groot verskil bewerkstellig en die voorkoms verander deur net kleur en tekstuur te gebruik. Hier’s ’n paar opsies:

Verf jou kaste

Daar is ’n magdom verfprodukte op die mark – van spuitverf tot krytverf. Só kan jy met die minimum moeite ’n dadelik sigbare verskil maak.

Vervang jou deure

Indien jy tevrede is met jou karkasse se kleur, kan jy bloot deurtjies met ’n nuwe ontwerp kies. Indien jy op dié opsie besluit, moet jy 100% seker maak dat jou karkasse in ’n goeie toestand is. Kies Euro-skroewe om die skarnierplaat te heg – dit sal keer dat die skarnier loskom. Skroef die nuwe skarnier ook op ’n ander plek as die oue vas.

Haal ’n paar deure af

Skep fokuspunte in jou kombuis deur van die soliede kasdeure te vervang met glas, latwerk of maasdraad; anders kan jy party in ’n ander kleur verf met krytverf.

Pas jou laaie aan

Jy kan byvoorbeeld ’n gewone kas met laaie omskep in een met rottangmandjies. Dit sal tonne tekstuur byvoeg en nuttige bêreplek verskaf.

Voeg eenhede by

Afhangend van jou beskikbare ruimte kan jy elemente byvoeg: Oop rakke is nuttig om mooigoed uit te stal; ’n eiland met kombuisstoele rondom is ’n gesellige kuierplek en met laaie daarin wen jy heelwat bêrespasie.

Vervang jou werkblaaie

Daar is ’n magdom opsies, van Formica en hout tot graniet en saamgestelde klip. Met ’n knap begroting is Formica jou beste keuse.

Koop nuwe toestelle

As jou sak dit toelaat, kan jy die voorkoms verander met ’n nuwe stoof, yskas, selfs mikrogolfoond of koffie- masjien (mits jou bestaande water- en kragaansluitings dit toelaat).

Pas jou beligting aan

Maak seker jou beligting is geskik vir wat jy in die kombuis wil doen: Gesonke ligte onder bo-kaste voorsien taakbeligting op jou werkblaaie, terwyl ’n hanglamp bo ’n tafel of eiland atmosfeer skep tydens etes.

Onthou jou mure

’n Vars verflaag, nuwe teëls of ’n byderwetse spatpaneel sal dadelik ’n verskil maak aan hoe jou kombuis lyk. Verseël altyd die naat tussen jou werkblaaie en die muur met silikoon om te keer dat nattigheid of vuilis agter jou kaste beland.

Verfris jou vloere

Nuwe vloere sal die hele vertrek opkikker. Oorweeg ’n mat op plekke met hoë voetverkeer om die afwerking ’n langer leeftyd te gee. Verseël in dié geval die naat tussen jou skopplate en die vloer met silikoon.

KONTAK ucandoit.co.za