My kombuis se kroon

Joanne Gouws van Riebeek-Wes skryf Ek het my kombuis en eetkamer oorgedoen en wil ook die ou, onooglike kroonlyste vervang om die prentjie te voltooi. Is dit iets wat ek self kan doen, of het ek professionele hulp nodig?

Cobus Lourens van Swartland antwoord Nuwe kroonlyste kan ’n groot verskil aan jou huis se binneruimtes maak. In die verlede moes jy kroonlyste deur kenners laat installeer, maar met die liggewig-kroonlyste van polistireen wat Swartland vervaardig, is dit ’n vinnige en maklike taak – jy meet, saag en plak net. Jy sal die volgende nodig hê:

  • kroonlyste in die styl van jou keuse
  • akriel-kleefmiddel vir kroonlyste
  • spons of skoon lap
  • kalfaatpistool
  • verstekbak
  • kryt of potlood
  • stopverfmes
  • ’n baie fyn saag
  • ekstrafyn skuurpapier
  • leer

Meet eerstens die mure om te bepaal watter lengte jou kroonlyste gesaag moet word. Ons s’n kom in standaardlengtes van 2m. Voeg 10% tot 15% by die totale lengte om voorsiening te maak vir afval wanneer dit by saag kom. Skuif al jou meubels uit die pad en bedek dit met ou lakens om dit te beskerm. Maak seker die mure en plafon is skoon en heeltemal droog voor jy begin.

1. Neem ’n afvalstukkie kroonlys en merk waar dit die muur en die plafon ontmoet. Gebruik dan ’n waterpas of laser-waterpas en trek ’n reguit lyn teen die muur. As jou plafon of muur nie perfek reguit is nie, trek die lyn so na moontlik aan die bokant van die muur. Jy kan dan die kroonlys op die reguit lyn installeer en enige gapings teen die plafon met kleefmiddel vul.

2. Saag al die nodige lengtes en saag die hoeke met behulp van die verstekbak. Gebruik die kalfaatpistool en spuit een lang streep kleefmiddel aan die bo- en onder-rand van die lys, asook op die ente waar lyste bymekaarkom. Posisioneer die lys waar die muur en plafon ontmoet en hou vas tot die gom droog is. Vir langer stukke sal jy dalk hulp nodig hê om die lys vas te hou, maar as jy alleen werk, kan jy maskeerband gebruik om elke lys in posisie te plak.

3. Vee enige oortollige kleefmiddel van die rande of lasse af met ’n klam spons of lap. Noudat al die lyste vasgeplak is, sal jy kan sien of daar enige gapings is. Spuit kleefmiddel in die gapings en vee enige oorskiet met jou vinger of ’n stopverfmes af. As die afwerking grof lyk wanneer dit droog is, kan jy dit liggies skuur.

4. Wag tot die kleefmiddel heeltemal droog is voor jy verf. Jy kan akrielverf of oplosmiddelvrye emaljeverf met ’n waterbasis gebruik.

KONTAK swartland.co.za