Die regte mat

Christel du Preez van Kaapstad skryf Ek weet my sitkamer kort iets om dit af te rond, iets soos ’n mat. Maar ek het geen idee waar om te begin nie! Waarna moet ek kyk as dit by grootte, ontwerp, materiaal, tekstuur en kleur kom? Help asseblief!

Wouter le Roux van Hello Charlie Interior Design Studio antwoord Matte is ’n wonderlike element wat meubels anker en ’n vertrek afrond. Dit skep ook ruimtelike definisie tussen eet- en leefareas in ’n oopplanruimte waar dit “los van mekaar” kan voel. Hier is ’n paar wenke:

1 Proporsie en grootte is belangrik Vermy ’n mat wat tussen êrens en nêrens “sweef”. Dit moet onder die voorpote van jou rusbanke en stoele lê om die meubels visueel te verbind en ’n samehangende geheel te skep. Maak seker jy koop die regte grootte sodat dit in proporsie is met jou meubels; dis ’n goeie idee om dit aan weerskante van ’n meubelstuk te laat “uitsteek”.

’n Algemene reël wanneer jy ’n mat koop, is om een te kies wat 80–100 cm kleiner as die vertrek is. Dit is omdat ’n oop strook vloer reg rondom die mat die ruimte groter laat voel. Wanneer jy ’n mat soek vir ’n eetarea, soek vir iets min of meer 60–80 cm groter as die tafel; dit beteken die stoele se agterpote is altyd op die mat, selfs wanneer die stoele uitgetrek is. ’n Loper vir ’n gang moet altyd 15–30 cm smaller en 40–60 cm korter as die gang wees.

Ronde matte raak deesdae al hoe gewilder. As jy dié opsie kies, geld die reëls hierbo natuurlik nie. Jy kan wel ’n wonderlike element by ’n ruimte voeg deur ronde matte asimmetries in ’n ruimte te plaas as treffende fokuspunt.

2 Kleur Met ’n mat kan jy ’n eenvormige palet skep, ’n bestaande kleur in jou skema uitlig of kontras bewerkstellig. ’n Mat bring persoonlikheid en ’n bietjie kleur en patroon in – wees dus so dapper soos jy wil!

Aangesien ’n mat ’n vertrek en die meubels daarin anker, sal sy kleur, styl en tekstuur ook die luim van die vertrek bepaal. Donker, ryk, manlike kleure sal ’n intieme ruimte afrond, terwyl ligter kleure ’n area groter sal laat lyk. Kies warm tone soos geel, oranje en rooi vir warmte, en koeler tone soos groen en blou vir ’n ontspanne, kalm atmosfeer. Die hoeveelheid sonlig wat ’n vertrek kry, sal ook jou kleurkeuse beïnvloed.

3 Patroon en tekstuur Tekstuur is ’n belangrike deel van enige interieur, want dis hoe jy ’n interessante laag-op-laagvoorkoms skep. Matte is ’n wonderlike manier om ’n vertrek diepte en tekstuur te gee, terwyl ’n motief ook die drama en trefkrag van die vertrek sal verhoog.

Eksperimenteer met verskillende weefstowwe soos sy, wol en katoen; ook diervelle, kunspels en selfs goiing of bamboes. Al dié teksture sal bydra tot die atmosfeer van die vertrek, afhangend van hoe dit lig weerkaats of absorbeer.

4 Materiaal Kies iets wat sterk en duursaam is – veral as jou mat baie verkeer gaan kry. ’n Goeie mat wat die toets van die tyd sal deurstaan is ’n slim belegging; maak daarom seker jy skaf een aan wat nog lank mooi sal lyk in jou ruimte.

Daar is deesdae ook ’n groot verskeidenheid buitematte beskikbaar; kies een wat taai is, nie sal verdof nie en wat jy maklik kan skoonmaak en versorg. Baie van hulle lyk ook mooi binne!

Hou die volgende eienskappe van die onderskeie materiale in gedagte (afhangend van waar jy jou mat wil gebruik):

Akriel is duursaam en maak maklik skoon. Die vesels kan geweef wees of geborsel sodat dit soos ’n duur wolmat lyk.

Polipropileen is ’n duursame sintetiese vesel en die versorging verg min moeite – perfek vir ruimtes wat baie voetverkeer kry.

Viskose is nie so duursaam soos ander materiale nie en daarom nie ideaal vir plekke met baie voetverkeer nie. Die materiaal het wel ’n lieflike, weelderige glans en word dikwels met ander materiale soos wol gemeng.

Wol is ’n natuurlike vesel wat ongelooflik sag onder jou voete en besonder duursaam is.

Goiing en sisal is uiters geharde natuurlike vesels wat geskik is vir vloere wat swaar verkeer moet verduur. Matte van dié vesels is geredelik beskikbaar in verskillende weefpatrone en kleure.

KONTAK hellocharlie.co.za

’n Kuur vir my vloer

Izel van den Heever van Johannesburg skryf Die afgevlakte vloer in ons sitkamer is ongeveer 50 jaar oud en vol krake. Wat is die beste manier om dit reg te maak?

Joanne Sykes, bemarkingsbestuurder by Cemcrete, antwoord Dit is taamlik moeilik om groot strukturele krake soos dié te herstel sonder dat die herstelwerk wys. Daar is drie benaderings:

1 Gebruik ’n herstelvulstof of iets soos ons PrimerCote (tot ’n pasta aangemaak) om die krake te vul. Dit gaan ongelukkig nie ’n naatlose eindresultaat gee nie – ’n mens sal kan sien waar daar gewerk is.

2 Andersins kan jy die krake vul en dan ons Concrete Primer aanwend voor jy CreteCote of RenoCrete bo-oor die hele vloer aanwend om dit ’n vars voorkoms te gee. Ongelukkig kan krake mettertyd weer verskyn.

3 ’n Derde – meer ingrypende – oplossing is om die krake soos hierbo te herstel en dan ons CemLam-membraan oor die hele vloer te lê, gevolg deur ’n 50 mm-afvlaklaag met ons Colour Hardener. Dit sal jou vloer ’n splinternuwe afwerking gee waarop die substraat geen uitwerking het nie; beweging onder die CemLam-membraan sal nie op die nuwe vloeroppervlak wys nie. Jou vloervlak sal wel hoër wees en deure of ingeboude meublement moet dalk aangepas word.

KONTAK cemcrete.co.za 

Leiklip op sy mooiste

Chrizanne Niehaus van Pretoria skryf Wat kan ek doen om my leiklipvloer dieselfde glans te gee as Hermann en Lochie Wessels s’n op bladsy 37 van die Mei 2020-uitgawe?

Robert Scott van Tile & Floor Care Chemicals antwoord Leiklipkleure wissel na gelang van hoe poreus dit is. Gewoonlik is minder poreuse leiklip swart of silwer en dié met ’n hoë poreusheid veelkleurig. Leiklip word meestal met sy natuurlike tekstuurafwerking verkoop, maar dit kan ook geslyp (glad en mat) of gepoleer (glad en blink) wees.

Dit is bitter belangrik dat leiklip-oppervlakke beskerm word, want dit beskerm ook die kleur. Kies óf ’n oppervlak-seëlaar wat die teël van bo af beskerm óf een wat deur die teël geabsorbeer word en dit sodoende versterk. TFC het drie verseëlaars vir leiklip: Deep Seal, Natural Stone Sealer en Top Seal. Gebruik Deep Seal op geslypte of minder poreuse leiklip, en Natural Stone Sealer of Top Seal op ongeslypte, meer poreuse leiklip.

Nadat teëls gelê is, is daar altyd voegbry-oorblyfsels – ongeag hoe deeglik jy skoonmaak. Dié voegbry moet eers verwyder word, aangesien ’n seëlaar nie die teël kan binnedring of daarmee kan bind indien daar enige onsuiwerhede of oorblyfsels op die vloer is nie; ook nie as die vloer suur is omdat skoonmaakmiddels nie geneutraliseer is nie. Laat 10–14 dae droogtyd toe nadat leiklipteëls gelê is voor jy skoonmaak en verseël. Suurwas met Grout Off en spoel goed af; neutraliseer en ontvet dan met Easy Clean. Spoel totdat daar nie meer borrels of oorblyfsels van skoonmaakmiddels is nie. Laat die vloer dan weer 8–12 uur droog word voor jy waterbasis-seëlaars gebruik, en 48 uur vir seëlaars met ’n oplosmiddel-basis.

Gebruik ’n skaapvelroller en wag lank genoeg tussen lae. Oppervlak-seëlaars het gewoonlik 3–4 lae van mediumdikte nodig; wend dit in teenoorgestelde rigtings aan. Indringende seëlaars is ontwerp om in die klip in te trek; wend daarom net soveel seëlaar aan as wat die teël sal absorbeer. Die veiligste, mees praktiese manier is om baie dun lae in teenoorgestelde rigtings aan te wend totdat die teël met seëlaar versadig is.

KONTAK tfc.co.za