Dekordilemma

Die probleem

Andrea Krige van die Paarl skryf Ek en my man werk sedert die begin van die inperking verlede jaar voltyds van die huis af; ons is gelukkig om ’n tuiskantoor te hê met ’n deur wat ons ná ’n werkdag kan toetrek. Dit is ’n funksionele ruimte, met ’n lessenaar vir elkeen, maar ons kort inspirasie om dit aantrekliker en gemakliker te maak. Daar is ’n kabinet waarin ons van ons kantoorvoorraad kan bêre, maar die drukker staan op die een lessenaar waar dit baie ruimte in beslag neem. Ekstra bêreplek sal welkom wees en ons moet ’n mat kry. Help asseblief!

Die oplossing

Dina Venter van my.decorlist antwoord Julle kantoor is netjies, maar dit voel deurmekaar weens “visuele geraas”. Volgens die vloerplan is dit ’n ruim vertrek, wat beteken julle kan maklik met die uitleg eksperimenteer. Die kantoor vra net enkele slim veranderings om meer professioneel te lyk. Voeg ook warmte by met persoonlike elemente – dit verhoog produktiwiteit.

Hier’s ’n paar voorstelle:

SKEP VISUELE RUIMTE DEUR TE ONTROMMEL Die gordyn neem tans spasie op wat beter benut kan word. Vervang dit met ’n rolblinding binne-in die vensternis. Dit sal ruimte skep en die area oper laat lyk. Omdat die vertrek lieflike natuurlike lig kry, sou ek ’n deursigtige geweefde blinding kies wat steeds lig kan deurlaat, maar wat jy kan afrol om lastige weerkaatsings op rekenaarskerms te vermy; as julle kleure en patrone verkies, laat maak ’n Romeinse blinding van veelkleurige materiaal. Al is dit funksioneel en bied dit ’n werkoppervlak, neem die bokkietafel heelwat plek in beslag. Oorweeg om dit te vervang.

Wenk Korporatiewe kantore lyk gewoonlik professioneel omdat alles eenvormig is. Belê gerus in ’n stel kantoormeubels pleks van afsonderlike stukke, veral wanneer daar meer as een werkstasie in die vertrek is.

FOKUS OP EENVORMIGHEID Die staalkabinet het ’n tydlose industriële voorkoms; laat lei jou ander kopies daardeur. Kry ’n bypassende lae staalkabinet (’n media-eenheid sal goed werk) waarop die drukker kan staan. Vervang dan die tafels met iets in ’n soortgelyke ontwerp of uit dieselfde meubelreeks.

BENUT DIE UITLEG TEN BESTE Op die vloerplan is daar ’n muur by die ingang na die kantoor wat nie gebruik word nie. Skuif die twee lessenaars teen dié muur, met die media-eenheid en drukker tussenin. Sodoende sal die drukker en ekstra bêreplek binne bereik van albei werkstasies wees.Wanneer die gordyn met ’n blinding vervang is, kan julle ’n gemak-stoel en kanttafel in die hoek regs agter plaas – perfek vir iemand wat ’n blaaskans vat of take verrig wat nie ’n lessenaar vereis nie.Los die hoë staalkabinet waar dit is, maar maak seker dit stamp nie teen die deur wanneer jy dit oopmaak nie.

SKEP BÊREPLEK Met die gordynreling uit die pad sal daar plek wees vir rakke. Skep ’n interessante fokuspunt bo en regs van die venster. Dis die ideale plek vir lêers en boeke wat julle nie dikwels gebruik nie (jy sal op ’n stoel moet staan om dit by te kom) en uitstalgoed soos foto’s en plante.

MEER PERSOONLIKHEID Kleur is belangrik in ’n werkruimte – dit het ’n uitwerking op jou luim en produktiwiteit. Ek stel ’n blou palet voor wat kalmte en fokus aanmoedig, met spatsels geel vir pret en ’n positiewe ingesteldheid. Verf die vertrek eers wit en hou die vensterrame swart om by die industriële styl in te skakel. Bring dan blou en geel in met plakpapier wat ’n mooi agtergrond vir aanlyn-vergaderings sal uitmaak. Kies ’n kortpool-buitemat wat bestand is teen kantoorstoele op wiele en rond die prentjie af met meubels en bykomstighede in dieselfde kleurskema.Wenk Verf die vloerlyste heldergeel in ’n subtiele herhaling van die kleurskema.

KONTAK mydecorlist.com

Maak self so!

1 Nestling-muurrakke (klein; 30 cm H x 30 cm B x 25 cm D) R1 099, @home

2 Geraamde A4-afdruk R750, Inki

3 Staander vir skootrekenaar (30 cm L x 29 cm D x 9 cm H) R490, Knus

4 Simply Stored- hiasintmandjie (medium) R249, @home

5 Sierra-kantoorstoel in mosterdkleurige fluweel R2 799, Superbalist

1 Eijffinger Waterfront-plakpapier (210 cm B x 280 cm H) R9 905, Dreamweaver Studios

2 Peace Lily Sunrise-lap R930/m, Hertex

3 Popcorn-media-eenheid (120 cm L x 40 cm D x 70 cm H) R3 499, Popstrukt

4 Chevy-matte (160 x 230 cm) R3100 elk, Haus

5 Metro-kanttafel in die kleur Ochre (40 cm L x 40 cm B x 57 cm H) R229,99, Mr Price Home

6 Geometriese Ellen-kuipstoel (83 cm B x 81 cm D x 80,5 cm H) R3500, Mr Price Home 

VERSKAFFERS

@home 0860 576 576

Haus 0860 437 839

Dreamweaver Studios 

Hertex 0860 437 839

Inki  

Knus  

Mr Price Home 0800 212 535

Popstrukt  

Superbalist  


OP DIE KASSIE
Tuis is die mediavennoot van Pak weg, pak reg op die leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147). Kyk Dinsdae om 16:30 na seisoen 2 van hierdie reeks inspirerende ontrommel- projekte; episodes word Sondae om 10:30 herhaal. Volg ons op Facebook vir nog ontrommelraad deur die kenners Carin Smith en Jani Augustyn-Goussard.

As die verf afdop

Antonet Jooste van Pietermaritzburg skryf Ons het ’n ou huis gekoop en in een van die vertrekke, waar die gepleisterde binnemure met emaljeverf bedek is, sien ons dat die verf plek-plek borrels maak. Hoe kan ek die verf verwyder? En as ek die mure daarna wil verf, moet ek weer ’n emaljebasis-verf kies of sal PVA ’n beter oplossing wees? 

Jenny Moolman, handelsmerkbestuurder by Duram, antwoord Om mure waarvan die verf borrels maak of afdop te herstel, moet jy eerstens die verf afkry. Gebruik ’n wentel-skuurder en begin met 80-grint-skuurpapier; herhaal dan met 100-grint-papier tot die oppervlak mooi glad is.

Vee of stof die mure skoon af en wend Duram Plaster Primer aan waar die verf heeltemal afgekom het. Laat die muur droog word; behandel dit dan met ’n laag Duram Universal Undercoat vir goeie hegting en om te keer dat die verf weer borrels maak of afdop. Daarna kan jy enige verf van jou keuse gebruik.Duram se dekoratiewe verfreeks sluit mat, laeglans-, mediumglans- en tekstuur-afwerkings in; kies jou verf op grond van die bepaalde vertrek, hoeveel lig die ruimte kry en watter voorkoms jy wil skep.

Indien jy weer emaljeverf wil gebruik, hetsy met ’n water- of oplosmiddel-basis, kies ’n glans-, halfglans- of mediumglansverf uit Duram se reeks.

KONTAK duram.co.za

Vuur en vlam

Anne Palmer van Blairgowrie skryf Ons is besig om ons huis op te knap en wil graag ’n nuwe kaggel in die leefvertrek installeer. Losstaande smeulkaggels is vir my baie mooi, maar ek hou nie van die idee dat ons die as moet uitkrap ná elke keer se gebruik nie. Watter ander opsies kan ons oorweeg? 

Malcolm Sims, besturende direkteur van Infiniti Fires, antwoord Voordat huiseienaars ’n nuwe kaggel insit, moet hulle die voor- en nadele van die onderskeie opsies teen mekaar opweeg.

Die gewildheid van oop houtvure in die huis het heelwat getaan omdat hulle ondoeltreffend is en rook afgee; dit maak net klein areas warm en verbruik baie hout. Die verkope van gaskaggels met skoorstene het ook gedaal weens hul lae hitte-uitset en uiters hoë lopende koste met dié dat gaspryse regstreeks met die olieprys verband hou. 

Hout-smeulkaggels en skoorsteenvrye gaskaggels is deesdae gewilde keuses. ’n Hout-smeulkaggel verbrand hout in ’n geseëlde boks agter glas. Dis maklik om aan te steek en verhit groot vertrekke uiters doeltreffend met minimale brandstofverbruik; die hitte-uitset word met verstelbare lugopeninge beheer volgens jou vereistes.

Aangesien die hout tot klein hoeveelhede as verbrand, hoef dit gewoonlik net elke vyf tot sewe dae skoongemaak te word. Dis die goedkoopste oplossing om groot oopplan-ruimtes te verhit.

Skoorsteenvrye gaskaggels is ontwerp om so skoon te brand dat dit geen verbrandingsgasse afgee wat uit die huis gelei moet word nie. Al die hitte wat die vlamme opwek, bly dus in die huis. So ’n kaggel word met ’n knoppie aangeskakel en geen skoonmaakwerk is nodig nie. Installering van ’n gaskaggel kos gewoonlik minder as ’n houtkaggel, maar die lopende koste is hoër.

In albei gevalle het die vlamme ’n betowerende uitwerking, sodat dit ’n wonderlike fokuspunt in die winter uitmaak. Watter kaggel jy ook al kies, sorg dat dit so geposisioneer is dat jou gesin en vriende gemaklik daarby kan sit en die atmosfeer geniet.

KONTAK infinitifires.co.za