Trap versigtig

Mary Marshall van Kaapstad skryf Twee jaar gelede, toe ek my kothuis opgeknap het, was ’n trap deel van die projek. Ek het baie gehou van die oop handreling van platstaal wat ek by ’n huis op Yzerfontein gesien het, en het ’n replika daarvan professioneel laat maak en installeer. Maar toe ek die veranderinge by die munisipaliteit wou laat goedkeur, het hulle gesê die trapreling voldoen nie aan die vereistes nie, aangesien die openinge tussen die stawe te groot is. Ek het al soveel trappe sonder relings in huise gesien. Sal ek goedkeuring kry indien ek myne heeltemal verwyder?

Nadine Naidoo van Meik Architects antwoord Daar is twee maniere waarop jy goedkeuring vir jou trapreling kan verkry:

Die eerste opsie is om die reling só aan te pas dat dit aan al die regulasies voldoen. Die betrokke regulasie bepaal dat ’n trapreling minstens 1m hoog moet wees en geen openinge moet hê waardeur ’n bal met ’n deursnee van 10 cm sal pas nie. As jy ekstra stawe in die reling sit sodat daar minder as 10cm tussenin is, sal die trapreling voldoende wees – mits daar minstens 1m tussen die bokant van die reling en elke treetjie se bokant is.

Die tweede opsie is om die trapreling te verwyder. Volgens die toepaslike regulasie moet enige trap met meer as vyf treetjies voorsien wees van minstens een aaneenlopende reling oor die volle lengte van die trap. Dit geld huishoudelike wonings (H3) en woonhuise (H4). Kortom, dus, as jou huis in dié kategorieë val, kan jy die trapreling verwyder en goedkeuring kry.

Dit klink dalk vreemd, maar ja, as jy ontslae raak van jou trapreling wat nie aan die vereistes voldoen nie, kom jy die regulasies na. Indien jy dié opsie kies, is dit raadsaam om ’n afskrif van die regulasie byderhand te hou sodat jy dit met die bou-inspekteur kan bespreek. Die eerste prys sou wees om die reling aan te pas vir goedkeuring, aangesien dit altyd veiliger is om ’n trapreling te hê.

KONTAK meik.co.za 

’n Vars baadjie

Doreen van der Linde van Wolmaransstad skryf  Ek wil my huis verf en oorweeg verskillende grys skakerings vir die mure en dak. Sal dit by die styl van die gebou pas?

Brendan Hart van Mayat Hart Architects & Heritage Consultants antwoord Die oorspronklike Kaaps-Hollandse huise is tradisioneel afgewit met kalk. Dit het die mure ’n warm naaswit kleur gegee – nie noodwendig die strak, spierwit wat ons vandag ken nie. Soms het die eienaars wel kleur by die kalk gemeng, byvoorbeeld geel oker of selfs subtiele pienk skakerings. By dié huise is die vensterrame ook gewoonlik geverf en was dit nie van ontblote hout nie. 

Indien jy grys skakerings verkies, beveel ek ’n warm grys aan (een met ’n rooi of geel ondertoon) of selfs grys met ’n subtiele groen ondertoon, soos beton. Vermy ’n blougrys of ’n koue grys. Verf jou dak donkerder as die mure en eksperimenteer met hoeveel kontras tussen die twee jy verkies. Of waag met iets nuuts en verf albei taamlik donker vir ’n kontemporêre voorkoms. 

Vir meer trefkrag kan jy ’n ander skakering vir die detail op die gewel en deuromranding kies. Verf byvoorbeeld die mure in ’n liggrys en die detail wit. As dit by ’n moderne weergawe van ’n tradisionele styl soos hierdie kom, hoef jy jou nie oor geskiedkundige akkuraatheid te bekommer nie – speel gerus!

KONTAK mayathart.com

Indien jy ’n warm grys vir jou huis se buitekant oorweeg, stel Dulux se kleurkonsultant Palesa Ramaisa die volgende kleure voor vir jou dak en mure, met twee opsies vir aksente op elemente soos geute.

KONTAK dulux.co.za