Dekordilemma

Die probleem

Moira Bladergroen van Kuilsrivier het by Tuis se spesiale binne-ontwerpdiens, Welkom Tuis, gaan aanklop. Sy wil graag haar ontspanne leefvertrek omskep in ’n meer formele en gesofistikeerde ruimte. Sy was nie gelukkig met haar bestaande meubels en uitleg nie en wil wegbeweeg van die gewilde plaasstyl na ’n tydlose, onopgesmukte interieur.

Moira se leefvertrek

Sam Harris van Welkom Tuis beveel ’n vars styl aan waarin klassiek en modern ontmoet in ’n sagte, gelaagde palet. “Organiese patrone, byderwetse naaswit vloerteëls, ’n kombinasie van leer- en materiaalstoffering, asook ryk metaalafwerking hier en daar sal Moira se leefkamer trefkrag gee,” verduidelik sy.

MEUBELS EN KLEUR Danksy die grootte van die vertrek sal dit maklik wees om hier ’n oop, skoon ruimte met ’n ongekompliseerde uitleg te skep. Twee bypassende rusbanke, elegante leunstoele en ’n moderne ronde glaskoffietafel sal dit ’n sagte, afgeronde voorkoms gee. Skep diepte met ’n “organiese” fokusmuur van treffende plakpapier met kronkelpatrone in neutrale skakerings. Ter afronding, baken die sitgedeelte af met ’n weelderige mat in sagte kleure. 

VENSTERBEKLEDING Sagte, deursigte gordyne saam met kontrasterende uitblokgordyne op ’n dubbelspoor wat naby die plafon gemonteer is, sal die illusie van meer hoogte skep. Hang die deursigtige en uitblokgordyne aan aparte spore vir meer gebruiks-opsies: Bedags bied die deursigtige gordyn privaatheid, maar laat genoeg lig in; saans sorg die uitblokgordyn vir meer privaatheid, terwyl dit ook klank van buite demp en hitte-isolasie verskaf.  

BELIGTING Kies ’n kombinasie van stemmings- en fokusligte wat sal verseker dat die ruimte verskeie aktiwiteite kan akkommodeer – bedags sowel as saans. ’n Groot kandelaber bo die koffietafel sal visuele trefkrag gee wanneer jy die vertrek uit die dubbelvolume-ingang binnekom. 

KONTAKwelcomehome.co.za (klik regs bo op AFR)

In jou eie ruimte

Skep ’n soortgelyke voorkoms met behulp van dié elemente.

Metaal-tafellamp R699, Decofurn

Maypole-kandelaber met 8 ligte R2499, The Lighting Warehouse

Spieël met metaalraam (72 cm D) R899,99, Mr Price Home

Maliva-mandjie vanaf R199, Cielo

Vlootblou Hector-leunstoel R3999, Superbalist

Medallion- bedrukte mat (200 x 290 cm) R4499, @home 

Strelitzia-kussing (50 x 50 cm) R250; dubbelgekleurde deken (140 x 180 cm) R499; effe fluweel-oortreksel (50 x 50 cm) R140, almal Woolworths

Regal- geometriese koffietafel (80 x 50cm) R2500, Mr Price Home 

Lig in die spieël

Deon Meyer van Brackenfell skryf Ek knap tans ons badkamers op en omdat ons in ’n skakelhuis bly, het een van dié vertrekke geen vensters nie. Daar was voorheen ’n dakvenster, maar ek het dit verwyder toe dit begin lek het.

Kortliks: Die badkamer kry geen natuurlike lig nie en die liggies wat ek in die plafon gesit het skep skadu oor ons gesigte wanneer ek skeer en my vrou haar grimeer. Ek het al spieëls met LUD-ligte gesien en gelees van ’n fluoresseerbuis wat jy bo of langs ’n spieël kan monteer. 

Die goeie nuus is dat daar reeds ’n elektriese punt is. Die vertrek is goed geventileer danksy ’n tweede deur na die hoofslaapkamer en ’n suigwaaier in die plafon; vogtigheid is dus nie ’n probleem nie. Ek soek ’n eenvoudige, tydlose oplossing, nie iets wat ’n stelling hoef te maak nie. Watter raad het julle? 

Eben Kruger, bemarkingsbestuurder by Eurolux, antwoord Badkamerspieëls en goeie beligting gaan hand aan hand. Die grootste voordeel van spieëlligte is dat dit jou gesig egalig verlig en nie skaduwees gooi nie. Dit rig die lig na jou gesig en nie na die spieël (soos ’n mens met ’n skildery maak) van waar dit direk na jou gesig sal terugkaats nie. Pleks dat die ligskynsel terugkaats, word jou beeld in die spieël mooi verlig.

By ’n vierkantige, reghoekige of ronde spieël sal ligte aan die kante jou weerkaatsing daarin die beste verlig. By ’n diamantvormige of agthoekige spieël is dit raadsaam om dit van bo af te verlig. Kantelligte aan weerskante werk beslis die beste; dit moet met groot sorg en so na aan die muur moontlik gemonteer word.

Onthou, al is ventilasie dalk nie ’n probleem nie, is ’n badkamer steeds ’n nat omgewing en daarom is veiligheid uiters belangrik by die beplanning van beligting. Jou badkamer bestaan uit verskillende sones na gelang van hoe ver elkeen van die waterbron is. Dié sones het elk ’n IP-gradering (dit dui aan in watter mate toebehore teen indringing deur vogtigheid verseël moet word) en bepaalde soorte beligting is geskik vir elke sone. Raadpleeg altyd ’n elektrisiën.

KONTAK eurolux.co.za

Beskerm die verf

Hesta Laszig van Karibib, Namibië, skryf Ek het 10 Malawi-stoele wat ek graag ’n vars voorkoms wil gee met wit, geel en groen verf. Watter soort verf moet ek gebruik sodat ek kan seker wees hulle is ook goed beskerm teen ons skerp son?  

Nadine Vosloo van Tjhoko Paint antwoord Jy kan jou Malawi-stoele met Tjhoko Paint ophelder en Tjhoko se Clear Glaze sal dit teen die son beskerm. Volg een van twee metodes:

• Maak die stoele goed skoon met ’n lap en lakverdunner. Dra handskoene en ’n masker en sorg dat jy in ’n goed geventileerde ruimte werk. Wag 20–40 minute dat die verdunner kan droog word en begin dan verf. Gebruik ’n kwas; ek verkies ’n Hamilton Ensign-kwas.

• Die ander – makliker – opsie is spuitverf. Verdun elke 500ml verf met 10ml water en verf jou stoele dan met ’n verfspuit. (Tjhoko Paint kan met tot 10% water verdun word vir spuitverf-doeleindes, dit wil sê tot 100ml water vir elke liter verf.) Laat die verf droog word voor jy die volgende laag aanwend.

Wanneer jy klaar geverf het, moet jy dit oornag laat droog word. Wend dan die Clear Glaze aan: Verdun dit met 30% water (3 dele glasuur op 1 deel water) en vryf dit met ’n klam mikrovesellap aan jou stoele. Wag 30 minute en wend dan nog ’n laag Clear Glaze aan.

Gereelde onderhoud is noodsaaklik in ons skerp Afrika-son. Indien die stoele onder dak staan sal die verf langer hou. Kyk elke drie tot ses maande of daar plekkies is wat opknapwerk vereis.

Oorweeg dié Tjhoko Paint-kleure: wit Cloud White of Da’vid; geel Simon Says, John’s Joy, Early of Bright; groen Goodness, Gracious, Olivia’s Pale, Dumisa’s Dream, Frik’s Forest, J’co of Laughing Lee.

KONTAK tjhokopaint.co.za