Waar kry ’n mens houtpalette?

Palette is dikwels by ysterwarewinkels soos BUCO beskikbaar. “Indien daar voorraad beskikbaar is wat nie aan die verskaffers terugbesorg moet word nie, sal dit te koop wees,” verduidelik Henk Lourens, eienaar-bestuurder van BUCO Worcester. Pryse sal verskil van winkel tot winkel, maar dis gewoonlik spotgoedkoop.

Hoe verseker jy dat palethout veilig is om te gebruik?

Tuis se selfdoenkenner, Deon de Goede, beveel aan jy skuur die palette deeglik voor jy dit verseël of verf.

 “Palette kom sonder enige waarborg,” verduidelik Henk. Maak dus maar seker dit is stewig en dat die hout nie gekraak is nie. Verwyder ook enige sigbare spykers, raai hy aan. 

Wat is die beste manier om palette te behandel as jy dit in ’n meubelstuk wil omskep?

As jy dit wil verf, begin met ’n goeie hout-onderlaag soos Plascon UC2. Wend Plascon universele onderlaag UC1 oor die spykers aan. Bo-oor dié produkte kan jy dan enige olie- of waterbasisverf gebruik, verduidelik Henk.

“As jy die palet se natuurlike houtkleur wil behou, stel ek voor jy skuur dit liggies en seël dit met ’n produk soos Colortone Wood Seal, wat beskikbaar is met ’n water- of oliebasis,” sê hy.

Wat as jy die palette in jou kombuis of badkamer wil gebruik?

Die beste manier om die hout vogbestand te maak, is om dit met ’ n mariene vernis soos Woodoc 50 te seël, stel Henk voor.

Hoe beskerm jy palette teen goggas?

“Die enigste effektiewe behandeling vir kewers is KCA (“CCA”), maar dit moet onder druk in behandelingstenke gedoen word,” verduidelik Henk. “As die palethout met vernis, veral een met ’n oliebasis, geseël is, is die kans uiters skraal dat enige goggas sal bly lewe.”

Deon sê jy kan dit ook deur ’n gesertifiseerde plaagbeheermaatskappy laat behandel. “Ek verf dit net met verdunners of terpentyn.”