Natuurlike vulsels word as die beste gehalte beskou omdat die materiaal “asemhaal” – iets wat jou koel hou op warm somernagte. As jy ’n sintetiese duvet verkies, moet jy verkieslik een met ’n katoen-omhulsel aanskaf.

Hier is ’n oorsig oor die voor- en nadele van elk, en hoe jy vir jou duvet moet sorg.

Natuurlike stowwe

• Vere en dons: Dit is goeie hitte-isoleerders in die winter, en in die somer koeler as poliëster. Dié duvets is ook lig, wat vir ’n gerieflike nagrus sorg. As jy allergies is, beteken dit nie noodwendig poliëster is jou voorland nie. Goeie verskaffers behandel die duvetvulsel met anti-allergeniese middels wat deur die SABS goedgekeur is. (Wees op die uitkyk vir dié inligting op die verpakking.)

• Sy: Dié duvets is lig en koel, en die perfekte oplossing vir warm somernagte. Dis is ’n goeie alternatief vir mense wat sensitief is vir dons, maar graag onder iets natuurliks wil slaap.

Maak dit só skoon

Sy-, vere- en donsprodukte moet gewoonlik na die droogskoonmaker gaan om skoon te kom. Dit moet ook gereeld uitgeskud en geklop word. Los die duvet vir ’n ruk buite sodat dit goed in die son kan bak en lug kry – dit sal die vulsel verfris. Hexvallei-donsprodukte bied ’n wasdiens vir kussings en duvets – met die opsie om ’n nuwe omhulsel te kry of nog vulsel te laat byvoeg.

Sintetiese stowwe

Sintetiese vulsels is goedkoper en ideaal vir mense met allergieë. Holveselvulsels vang lug vas – vandaar hulle opgepofte voorkoms. Dié van poliëster sal platter wees. Sintetiese stowwe is minder isolerend as natuurlike vulsels.

Maak dit só skoon

Lees die etiket – party soorte kan met die hand óf in ’n wasmasjien gewas word.