Watter kleur vir my muur?

Danél de Villiers van Walkerville, Gauteng, vra: Ons is besig om huis te bou en wil graag ons soldervertrek wit verf soos die een op bl. 57 van die Mei 2018-uitgawe. Ons het wit verf gekoop, maar dit vertoon amper ligblou. Watter kleur het die huiseienaars gebruik? Ons soek iets so neutraal moontlik sodat kuns en ander items mooi daarteen kan vertoon. 

Jenny Collins van Red Cat Design, wat dié kamer ontwerp het, antwoord: Die kleur is ’n standaardwit van Midas. As jy op soek is na ’n naaswit met ’n warm ondertoon, kan jy Evening Mist van Plascon (dit het ’n geel ondertoon) of Natural Taupe van Dulux (met ’n warm rooi ondertoon) probeer. Plaster van Plascon, Potters Clay van Dulux en Maluti uit Duram se Eye for Colour-versameling het weer ’n warm grys ondertoon.

Dit hang natuurlik ook af watter soort lig daar in jou solder is; verf liewer toetsblokke van 1 x 1m teen die muur om te sien hoe die verf lyk in die bepaalde lig wat die ruimte kry. Die tyd van die dag gaan ook bepaal hoe die verfkleur vertoon.

KONTAK redcatdesign.co.za