Opknap-groentjie

Lana de Wet van Johannesburg skryf: Ek wil ’n ou badkamer vernuwe, maar as ’n beginner voel ek heeltemal verlore; kan julle asseblief help met raad oor watter afwerkings ek moet kies?

Die interieurargitek Trisch Barnard antwoord: Hier is ’n paar basiese punte wat jy moet oorweeg wanneer jy na afwerkings kyk:

Glyvaste vloerteëls is noodsaaklik. As jy graag groot teëls wil lê, kies ongeglasuurde porselein. Trendy mosaïekteëls is ook ’n goeie opsie.

Geglasuurde teëls is die beste vir mure omdat dit maklik skoonmaak. Vermy wit voegbry wat gou vullis wys en baie moeilik is om skoon te hou. Oorweeg ook ’n vloerteël wat teen mure gebruik kan word.

As jy besluit om die mure te verf, kies ’n produk wat spesiaal geformuleer is vir badkamers.

Vermy poreuse materiaal vir kaste, en kies liewer afwerkings wat geskik is vir blootstelling aan water.

KONTAK trisch@projectworks.co.za

Lisa Millbacher van Bespoke Bathrooms antwoord:

Hier is ’n paar nuttige wenke vir wanneer jy ’n badkamer-projek aanpak:

  • Gebruik beligting laag op laag; kombineer byvoorbeeld spieëls met LUD-ligte en gepaste muur- of plafonligte.
  • Goeie natuurlike lig deur vensters of dakvensters is ook belangrik.
  • Maak seker voorwerpe soos die toilet of handdoekrelings is nie die eerste ding wat jy sien wanneer jy instap nie.
  • Oorweeg muurgemonteerde elemente soos ’n swewende wasbakkas en toilet om vloerspasie oop te hou.
  • ’n Naatlose vloerbedekking of groot teëls sal die ruimte groter laat voel.
  • Vermy soliede mure vir privaatheid in die stort of by die toilet en kies liefs behandelde glas.

KONTAK bespokebathrooms.co.za