Christi Kellerman van Johannesburg skryf Ek en my man het pas huis gekoop en my hande jeuk om ons oudmodiese hoofslaapkamer in ’n rustige oase te omskep. Ek is onseker waar om te begin. Enige wenke?

Stacey Nel, bemarkingsbestuurder by Volpes, antwoord Daar is heelparty betroubare maniere om ’n vervelige slaapkamer op te dollie; ek stel die volgende voor:

  • ’n Ottoman aan die bed se voetenent (’n ruimte wat selde goed benut word) skep ’n stylvolle, “volwasse” gevoel en kan vir sit- én pakplek gebruik word.
  • Jou beste keuse vir lakens is suiwer katoen van goeie gehalte; Egiptiese katoen het ’n langer pool, wat dit nog sagter maak. Hoe hoër die draadtelling, hoe weelderiger die materiaal.
  • Gebruik ’n groot mat om die bed en omringende meubels te anker en die geheel af te rond.
  • As jy jou bed met strooikussings wil versier, pak jou slaapkussings heel onder sodat jy saans net die ekstra kussings hoef af te pak. Speel rond met kleur en proporsie deur kussings met wisselende groottes, teksture en patrone te kies.
  • Jou vensterbekleding (van ragfyn gordyne tot verdonker-blindings) sal nie net die styl en lig in jou kamer bepaal nie, maar ook die temperatuur; hou ook die vertrek se oriëntasie in gedagte.

KONTAK volpes.co.za