Is jy ’n kreatiewe dekorliefhebber wat elke hoekie in jou huis “tydskrif-gereed” wil kry? Of wou jy nog altyd leer wat ’n Tuis-fotosessie behels, hoe jy daarvoor beplan en voorberei, wat jy alles in jou stileertassie moet hê as jy eendag huise wil mooimaak as ’n loopbaan, en hoe jy ’n mooi blad in die tydskrif opmaak?

Dan is ons heel eerste dekorskool net vir jou. Want hier, in die kreatiewe maalkolk van die Tuis-kantoor, karaktervolle leserhuise en MRP Home se vlagskipwinkel in Canal Walk, Kaapstad, sal jy by kenners kan leer wat dit verg om ’n voorste huisstilis te wees. In die bestek van drie dae wil ons die wenke en kortpaaie wat die Tuis-span oor jare opgebou het – van inspirasieborde en kleurkeuses, kulkunsies as dinge nie uitwerk nie, slim tegnieke tot ’n skeut selfdoenvernuf – met jou deel.

Ons maak as’t ware die deure van ons eie huis vir jou oop. Kom voel die adrenalien van hoe die Tuis-redaksie elke maand die tydskrif aanmekaarsit.

BESONDERHEDE

Datum 7 tot 9 Oktober 2020 

Plek Media24-Sentrum, Kaapstad 

Koste R4500

Die prys sluit reis- en verblyfkoste uit, maar ontbyt en middagete elke dag, vervoer tydens die program sowel as al die stileertoerusting wat jy gaan nodig kry, is ingesluit. Bespreek jou werkstasie by anene.deklerk@media24.com of skakel 021 406 4546.