Foto’s Henrique Wilding en Marzanne Schoeman

Is jy ’n kreatiewe dekorliefhebber wat elke hoekie in jou huis “tydskrif-gereed” wil hê?

Of wou jy nog altyd leer wat ’n Tuis-fotosessie behels, hoe jy daarvoor beplan en voorberei, wat jy alles in jou stileertassie moet hê indien jy eendag huise wil mooimaak as ’n loopbaan, en hoe jy ’n mooi blad in die tydskrif opmaak? Dan is ons gewilde dekorskool net vir jou. 

In twee lieflike huise – een in Kaapstad en een in Johannesburg – en met volle toegang tot stylvolle Mr Price Home-items, sal jy by kenners kan leer wat dit verg om ’n voorste huisstilis te wees. In die bestek van drie dae wil ons die wenke en kortpaaie wat die Tuis-span oor jare versamel het – van inspirasieborde en kleurkeuses, kulkunsies as dinge nie uitwerk nie, tot slim tegnieke en ’n skeut selfdoenvernuf – met jou deel.

En natuurlik kan jy uitsien na ’n regte, egte fotosessie saam met ’n beroepsfotograaf, asook die kans om jou handewerk op die blaaie van die land se voorste huis-en-tuintydskrif te sien. Kom geniet dit saam met ons!

Gryp die geleentheid aan om ’n werklike vertrek te stileer saam met ’n professionele fotograaf.

’n Besoek aan ’n Mr Price Homewinkel onder die wakende oog van die Tuis |Home-span sal jou help om jou eie ruimte te stileer.

Só werk jy met kleure, patrone en teksture.

’n Inspirasiebord is jou geheime wapen.

Besonderhede

Kaapstad 21-23 September 2021

Koste R4500

Gauteng 20-22 Oktober 2021 

Koste R4500

Die prys sluit reis- en verblyfkoste uit. Ingesluit is ontbyt en middagete elke dag, vervoer tydens die program sowel as al die stileertoerusting wat jy gaan nodig kry. Bespreek jou werkstasie by anene.deklerk@media24.com.