Foto's Francois Oberholster en Marzanne Schoeman

Ons heel eerste Tuis l Home Dekorskool is van 7 tot 9 Oktober 2020 in Kaapstad gehou en dit was vet pret! En die huis waar die Dekorskool afgespeel het? 'n Lieflike Victoriaanse gesinshuis in die hartjie van Kaapstad. Sien foto's van die huis hier (en bespreek ook sou jy eendag daar wil oorbly).

"As dit van Mr Price Home (ons amptelike borg) afhang, sal ons elke twee maande 'n dekorskool hou. Ons het groot planne om 'n volgende een te hou, maar definitief nie elke twee maande nie,” skerts Wicus Pretorius, redakteur van Tuis.

Die 14 studente het op die eerste dag Mr Price Home se winkel in die Canal Walk-winkelsentrum ingevaar en hulle is onder meer touwys gemaak oor hoe om 'n tydskrifvoorblad aanmekaar te sit, die fynere kunsies van stilering en hoe om treffende foto's te neem. Hulle het ook gehoor van Marian van Wyk, Tuis se kreatiewe redakteur, Kerry Strauss , bemarkingsbestuurder van Mr Price Home en die binnenshuise versierder Isabel Barends van die VIA-program My plek of joune?

"Dit was absoluut inspirerend – van die huisbesoek aan Doreen de Waal se inAWEstays-vakansiehuis tot die besoek aan die materiaalwinkel Skinny laMinx en die fotosessies wat hulle in die huise gedoen het. Ek dink een van die hoogtepunte vir die studente was om die voorblaaie te maak. Elke voorblad sou 'n fantastiese voorblad kon maak," sê Wicus.


  En hoe lyk die planne vir 'n tweede dekorskool?

"Ons is opgewonde, Mr Price Home is opgewonde, so daar gaan beslis nog 'n dekorskool wees – net nie hierdie jaar nie. Hou ons sosiale mediaplatforms dop vir nuus oor die volgende dekorskool."

Isabel Barends
Isabel Barends

Die span van Mr Price Home

Johané Neilson, Tuis se kosredakteur, het gesorg vir al die heerlike maaltye.

Alcolin het ook gesorg vir gereedskap.

Van die items van die studente se inkopietog.