Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Met vergunning van Gateway Publishing is vier oorspronklike illustrasies van lady Cynthia Tait herdruk, en een-een deur die hele Februarie-oplaag van Tuis versprei. 

Versamel die hele stel – en stuur foto’s van waar dit in jou huis hang!

’n Toevallige gesprek oor ’n boks tekeninge wat al jare onder ’n bed lê, het gelei tot die luukse-boek The Tait Florilegium wat nou in Suid- Afrika beskikbaar is.

Florilegium beteken letterlik “ruiker”, en blaai jy deur dié bundel illustrasies van meestal inheemse Suid-Afrikaanse plante, kan jy jou amper verbeel dis wat jy in jou hande vashou. Die fyn detailtekeninge, gedruk op hoëgehalte-kunspapier, is oorrompelend mooi. Almal is botanies korrek, ook wat kleur betref, en die volksname in Afrikaans en Engels word aangegee.

Die illustrasies is die handewerk van lady Cynthia Tait (1894–1962) van Engeland. En toe ons dié koffietafelboek hier in die Tuis-kantoor oopslaan, het ons dadelik toestemming gevra om vier illustrasies te herdruk, spesiaal vir Tuis-lesers wat mooigoed soek vir ’n kaal muur in die huis. Botaniese ontwerpe is immers ’n groot modegier – op kussings, keramiek, en natuurlik ook as kuns.

Die illustrasies het ’n mooi storie. Lady Tait het tydens haar twee huwelike by tye in Suid-Afrika en die ou Rhodesië (nou Zimbabwe) gewoon, en hier onder die Afrika-son haar skilderwerk al hoe meer toegespits op Suid-Afrikaanse plante.

Haar eerste man was die Britse admiraal sir Campbell Tait wat in die 1940’s by die vlootbasis in Simonstad gestasioneer was. Maar dit was haar tweede man, Lancelot Herbert Ussher, met wie sy later as weduwee getrou het, wat haar nog nader aan die plaaslike planteryk gebring het. Hul bure was die Kirstenbosch Botaniese Tuin, en as groot ondersteuners het hulle van die plante uit hul eie tuin aan dié nou wêreldbekende tuin geskenk.

In 1956 het die Koninklike Tuinbouvereniging ’n silwermedalje aan lady Tait toegeken vir haar uitstalling aldaar van Kaapse veldblom- illustrasies. Sy ontvang in 1961 ’n bronsmedalje vir haar swaardlelie- illustrasies – dit hang vandag nog in die Compton-herbarium in Kirstenbosch. ’n Ander kunswerk van haar, wat in die konferensie- kamer hang, was die laaste opdrag wat sy voor haar dood in 1962 ontvang het: Sy moes ’n krans van veldblomme skilder met plek in die middel vir die name van ’n groep uitgelese botaniste en tuinbou- kundiges wat ’n konferensie by Kirstenbosch kom bywoon het.

Ná lady Tait se dood is die grootste deel van haar versameling illustrasies nagelaat aan twee van haar kleinkinders: Cynthia Cormack MBE en William Astley-Jones.

Cynthia het eendag in 2015 tydens ’n gesprek met die vooraanstaande Clematis-kweker Raymond Evison OBE, wat net soos sy op die eiland Guernsey in die Engelse kanaal woon, vertel van ’n boks met van haar ouma Cynthia se illustrasies wat al jare lank onder ’n bed in haar huis staan. Toe hy dit onder oë kry, het hy dit onder die Guernsey-kunsteraad se aandag gebring. Die idee vir ’n uitstalling is gebore en die uitgewery Gateway Publishing in die Kanaal-eilande het onderneem om ’n boek en kaartjies te druk vir die geleentheid in Guernsey.

Een van die Gateway-vennote, Duncan Spence, is die eienaar van die Rickety Bridge-landgoed in Franschhoek, wie se wyne by die opening geskink is. Hier het Duncan die Suid-Afrikaanse tuinkenner Keith Kirsten raakgeloop en aan hom onderneem dat hy die uitstalling en boek na Kirstenbosch sou bring. En hier is dit nou! 

Kom kyk self!

Altesame 66 van lady Cynthia Tait se werke word van 16 Januarie tot 15 Maart by Kirstenbosch uitgestal – daagliks van 09:00 tot 18:00 in die Richard Crowie-saal, hek 2. Gewone toegang by die hek geld. Die boek, wat Duncan en sy vennote by Gateway Publishing, Chris Andrews en Amy McKee, uitgegee het, sal te koop wees; of bestel dit by amazon.com of gatewaysark.co.uk. 

Wen!

Een gelukkige leser kan ’n eksemplaar van The Tait Florilegium ter waarde van R1 850 wen. SMS die woord TAIT, gevolg deur jou naam, huis- en/of posadres voor 29 Februarie 2020 na 33409 (elke SMS kos R1,50).