1. Skep & vernuwe

BESIGHEID Patat Ontwerp/Design

WIE Ian Engelmohr

WAAR Paarl, Wes-Kaap

SY WERK Ian het in 2012 vir die pret ’n paar keramiekklasse bygewoon by ’n gemeenskaps-kunssentrum. Maar toe hy later ’n kreatiewe uitlaatklep vir sy stresvolle beroep as geoktrooieerde rekenmeester soek, het dié klasse nuttig te pas gekom. Hy het ’n paar stukke gemaak, foto’s daarvan op sy sosialemedia-profiele geplaas – en toe stroom die bestellings in! 

Kort voor lank het Patat Ontwerp/Design die lig gesien in ’n ateljee in die Paarl, waar hy elke stuk met die hand maak – van giet tot glasuur. Sy reeks sluit die afbeeldings van ikoniese Suid-Afrikaanse produkte op keramiekborde en “papierkoppies” van keramiek in. Sien meer op Instagram (@patatontwerp) en Facebook (facebook.com/patatontwerp).

Ek hou van die idee van funksionele kuns.– Ian

 2. Uit Lapland

Gee jou verbeelding vlerke met dié materiaal wat deur die natuur geïnspireer is. Ons is dol oor die fyn handbedrukte In Flight (R350/m; 1,5 m B) van Hartlam Prints (hartlamprints.co.za) en die Trusuede Black Bird-paneel (R466; 60 x 60 cm) van Tessa Sonik (tessasonik.com).

3. BLOU-GRYS EN GRYS-BLOU  

Is dié nuwe sagte krytverfkleure van Annie Sloan nie wonderskoon nie? Chicago Grey, met sy subtiele sweempie grys, is genoem na die sterk argitektuur van dié Amerikaanse stad, terwyl Svenska Blue, ’n vars, koel blougrys, geïnspireer is deur skakerings wat in die 18de en 19de eeu gewild was in Sweedse herehuise.

4. DROOMMOOI...

Raak verlore in die Washed Away-plakpapierontwerp van Cara Saven Wall Design (R495/m²; ook in ander kleure te kry).  Besoek carasaven.com.

1. Mooi geplooi   

Daar’s iets so romanties omtrent dié tafeldoek van “kreukelline”, te kry by die aanlyndekorwinkel woven-green.com (R1 545; 180 x 270 cm) – dis perfek vir lieflike, moeitevrye kuiers. Sien meer by woven-green.com.

2. Vir ’n goeie doel

Hellooow Handmade in die Middelland van KZN verskaf werk aan vroue wat deur MIV geraak word. Hulle rol die mooiste keramiekkrale uit herwinde papier en klei en dan word dit gebruik om dié yster-en-krale-kandelabers mee te skep. Kyk na al die kleure en fatsoene by hellooow.co.za

3. Tuinkuns

Skep ’n treffende vertikale tuin met die nuwe Faux Flora-reeks van Contours Landscapes. Die kunsplant-panele van 1 m² (R599 elk) kom met verskillende soorte groenigheid en is geskik vir binne- én buitegebruik. Sien ook capecontours.co.za.

4. WINKELS TOE

Loer in by die botaniese winkel PoléPolé by die Woodstock Exchange in Kaapstad, waar daar lugplante, kaktusse, varings, orgideë en vetplante, asook talle kontemporêre en vintage-dekorstukke en kuns te kus en te keur is. Die woord “pole-pole” kom uit Swahili en word dikwels gehoor in Zanzibar en Tanzanië, waarheen die eienaar, Paul Harris, graag reis. “Die woord maan jou om dinge rustiger te vat; daar’s geen rede om die lewe af te jaag nie,” sê hy. Sien meer by polepole.co.za.