1. SKEP, INNOVEER!

BESIGHEID Lulasclan
WIE Bonolo Helen Chepape
WAAR Mafikeng

HAAR WERK Bonolo, ontwerper en eienaar van Lulasclan, ’n kreatiewe dekor-konsultasiediens wat pasgemaakte tekstielware verkoop, put baie inspirasie uit haar grootwordjare en kuiers by haar ouma se huis in Limpopo, waar sy altyd omring was deur musiek, kuns 

en stories. Sy het ook in haar ma se snoepie-motorhuis gewerk, wat haar ondernemings­gees aangewakker het. “Tussen die klante deur het ek my illustrasie­vaardighede geslyp; ek kon vir ure sit en teken!” sê Bonolo.

Nadat sy ’n BA-graad in grafiese ontwerp behaal het, het sy haar hart in haar onderneming gestort. Nou spog sy met ’n reeks strooikussings versier met portretkuns en kontemporêre Afrika-motiewe. “Dis ’n uitbeelding van ’n optimistiese toekoms en ’n viering van vroue,” sê Bonolo. Besoek lulasclan.com.

2. Uit Lapland

Biggie Best se nuutste lapreeks, Book of Florals (vanaf R380/m; 140 cm breed), het die mooiste motiewe in ’n verskeidenheid kleure vir elke styl. Kyk aanlyn of loer in by die nuwe Biggie Best-winkel wat in Oktober in die Tygervallei-winkelsentrum oopmaak. Besoek biggiebestwebshop.co.za.

3. Warm kopie

In samewerking met Kaatjie Produkte en Hartlam Textiles & Print het die aanlyn­winkel jislaaikshop.co.za nou ’n reeks Dis Lekker-strooikussings wat spog met prente van die lekkerste plaaslike eet- en drinkgoed! Die kussings (50 x 50 cm) met hul oulike keperkatoenoortreksels kos R270 elk.

4. Gee jou tuin ’n kontemporêre kinkel met dié pragtige voëlhuisies van berkelaaghout deur Foo Dog Design. Die grootste een kos R440 (41 cm hoog) en jy kan dit koop by hul winkel in Fourways, Johannesburg, in Brooklyn Mall, Pretoria, of aanlyn by foodogdesign.co.za.

5. Dol hieroor

Kyk net hoe oulik is ISCA se nuwe reeks kombuis-mengkrane! Dis beskikbaar in rooi, oranje, geel, groen, blou, swart en goud en kos vanaf R1 818. Koop joune by Plumb-It in Centurion, Gauteng, of aanlyn by plumbitonline.co.za.

6. Winkels toe

Trouvé by Langweg 118 in Greymont, Johannesburg, het ’n fantastiese versameling Franse, retro- en antieke meubels, asook ’n “klomp ander interessante optelgoed!” sê die mede-eienaar Joe Strydom. Hulle upcycle heelwat ougoed in hul ateljee en daar het ook onlangs ’n lieflike koffiekroeg oopgemaak. Sien meer by facebook.com/trouveza.

7. Italtile se nuwe ColorArt-reeks porseleinteëls (R690/m2; 150 x 1 200 mm) lyk kompleet soos ’n verweerde houtvloer. Die teëls is beskikbaar in die kleure Light, Bone, Desert en Carbon. Sien meer by italtile.co.za.

8. Nuut op die horison

Dulux se Kleur van die Jaar vir 2019 is bekend­gemaak: Crème Brulee is ’n warm amber kleur geïnspireer deur die vele skakerings en eienskappe van heuning – natuurlik, tydloos, blywend en verjongend.

9. Hoity Toity Furniture and Décor hou ’n verskeidenheid plastiek­matte in byderwetse ontwerpe aan (vanaf R750; 120 x 184 cm); besoek hoitytoityfurniture.co.za.

10. Bekostigbare kunsplante is nou hoog in die mode, en ons is dol oor Sheet Street se reeks potplante en blomme – van vetplante tot rose! Gebruik dit om ’n vars rangskikking aan te vul of om ’n waterwys fokuspunt te skep. Sien meer by sheetstreet.com