1 skep en innoveer!

WIE Talia van der Walt en Justine Darby

WAAR Johannesburg

BESIGHEID Sewing Room

HUL WERK Met ’n gedeelde passie vir pragtige dekor en binneontwerp het Talia en Justine ’n  aanlyn-ontwerpdiens op die been gebring wat ’n maklike eenstop-oplossing bied. Met Sewing Room kan jy uit ’n reeks trendy lap kies vir strooikussings, hondekussings, sitsakke, dekens en lampkappe in die grootte van jou keuse. 

Hulle het ook ’n ontwerpdiens waar jy persoonlike raad kan kry wanneer jy ’n foto van jou ruimte instuur. Sien meer by sewingroom.co.za.

2 Met inspirasie uit Tokara se lieflike tuin het die fotograaf Theresa Fourie, in samewerking met die Tokara Delicatessen in Stellenbosch, die eksklusiewe Tokara Collection bekendgestel – ’n  reeks kussingslope, tafeldoeke en voorskote van suiwer linne bedruk met foto’s van tonele en blomme in die landgoed-tuin. Besoek die Tokara Deli of bestel by sarah@tokara.com.

3 pret vir almal!

Die keramiek-ateljee Klomp het sy eerste “regte” winkel in Vredehoek, Kaapstad, oopgemaak. Om dit te vier bied hulle slypskole vir kinders en volwassenes aan waar jy van hul handgemaakte stukke kan versier nes jy dit wil hê. Besoek klompceramics.com om te bespreek.

1 Op jou boekrak

Cécile (R390, Cécile & Boyd) vier die lewe en werk van Cécile Tilley, ’n ontwerp-doyenne, styl-ikoon en die stigter van die binneontwerp-ateljee en dekorwinkel Cécile & Boyd. Die boek word uitgegee om saam te val met die herdenking van hul 30ste bestaansjaar. Cécile is ’n huldeblyk aan die vrou agter die naam. In dié memoir is daar pragtige foto’s – van kiekies uit die gesin se argiewe tot ’n paar wat Cécile & Boyd se vroeë projekte wys. Besoek cecileandboyds.com.

2 Ons is dol hieroor

Dié stewige en praktiese Zita-voetstoeltjie, met geweefde bekleedsel en akasiahoutpote, is deel van Block & Chisel se nuwe Tapestry-versameling wat ook matte en tapyte insluit. Besoek blockandchisel.co.za.

3 Macramé is terug!

As jy hou van macramé, sal jy gaande wees oor Meisiekind se weergawe van dié 1970’s-­mode. Benewens plant­hangers, sluit die reeks ook mandjies, tafellopers, drupmatjies en muurkuns in. Sien meisiekind.co.za.

4 Winkels toe

Die Franse eenstopwinkel vir huis­verbeterings Leroy Merlin het sy tweede Suid-Afrikaanse winkel oopgemaak in Little Falls, Johannes­burg. Nes by die eerste winkel in Edenvale is hier ’n groot reeks ysterware en gereedskap, asook dekor en produkte vir die kombuis, badkamer en tuin te kry op ’n vloer van 9000m². Besoek ook hul kenmerkende Drive-Thru Building Yard, waar jy met jou motor inry, inlaai wat jy wil hê en betaal wanneer jy uitry. Sien meer by leroymerlin.co.za.

5 nuwe kleur!

Dulux se Kleur van die Jaar vir 2020 is ’n sagte, rustige groen genaamd Tranquil Dawn. Die delikate skakering is iewers tussen groen, blou en grys, en herinner aan meer­jarige plante met silwer loof en “bevorder ’n gevoel van welstand”. Hier word dit saam met ander sagte, neutrale skakerings, ligte hout en suede, asook fluweel- en woldekens gebruik vir warmte in ’n kontemporêre sitkamer.