Warm kopies

Probeer dié ronde muurplakkers van mywalltattoos.com om ’n vertrek vinnig en maklik op te kikker. Dis beskikbaar in drie groottes (50 cm, 75 cm en 100 cm in deursnee) en pryse wissel van R260 tot R540. As die Tropical Flowers-ontwerp nie in jou smaak val nie, kan jy na die Toucan-, Parrot- en Flamingospatrone kyk. Te mooi!

Die aanlynwinkel succulent-trays.co.za word bestuur deur Labyrinth Nursery in North Riding, Gauteng en verkoop plantbakke met ’n kombinasie van vetplante; dis gerieflik volgens prys gelys (vanaf R295 vir ’n bak met 128 vetplantjies). Sien die verskillende kombinasies en groottes op hul webblad.

VLNR: Ons is absoluut mal oor die sewe pastelkleure in Italtile se nuwe reeks, Chalk. Jy kan maklik dié keramiek-muurteëls van 75 x 300 mm meng en pas. Dit kos vanaf R399/m2. Sien italtile.co.za vir nog.

Witwarm trend!

Mat swart krane is een van 2018 se gewildste neigings in badkamers. “Dis eenvoudig dog treffend, en verleen elegansie aan enige ruimte,” sê Johnny Lamprecht van Bathroom Bizarre. Hy sê swart krane werk veral goed saam met toebehore van marmer (of dié met ’n marmer-voorkoms), met hout vir ’n eko-sjiek voorkoms of in badkamers waar die kleurskema oorwegend swart of wit is. Besoek bathroom.co.za vir nog inligting.

Uit lapland

Diereliefhebbers, kyk bietjie hier! Hoe skattig is dié Dog Doodles-lap van knus.co? Die polikatoenmengsel (beskikbaar in Black en Khaki, 147 cm breed) kos R197/m en is geskik vir ligte stoffering en gordyne.

As jy van strooikussings hou, moet jy by Inside Out Home Boutique uitkom! Hier kan jy regdeur die jaar kies uit sowat 60 eksklusiewe bedrukte ontwerpe. Die 60 x 60 cm-strooikussings, met vere- en donsvulsels, kos vanaf R700. Hulle verkoop ook meubels, spieëls, matte en kuns. Besoek die winkel by Windermereweg 222, Morningside in Durban, of koop aanlyn by insideouthb.co.za.

Skep & vernuwe

BESIGHEID Threads That Bind Us

WIE Emma en Leila Rowett

WAAR Kaapstad

HUL WERK Dié twee susters, wat ’n passie vir pragtige dekor en ’n talent vir teken en stikwerk deel, het juis dít ingespan vir hul eie reeks tydlose bykomstighede, onder meer vadoeke en strooikussings, geïnspireer deur die natuurskoon van die Moederstad. Die meeste artikels spog met fynbos wat met die hand op die lap geteken en dan met die vry hand met ’n masjien geborduur word. Hulle maak ook artikels op bestelling: “As ons dit kan teken, kan ons dit stik!” Besoek threadsthatbindus.co.za vir ’n lys verskaffers of om aanlyn te koop.

Winkels toe!

The Ruby Orchard by Yard 41 in Howick, KwaZulu-Natal, spog met ’n dekorreeks wat inspirasie put uit Britse plattelandse kothuise, plaashuise en rustieke skure. Kom loer na hul glaskoepels, keramiekware en gevlegte mandjies, asook herwinde meubels en handgemaakte rame en spieëls deur hul eie span houtwerkers.