1. SKEP & VERNUWE!

WIE Bruce en Tariro Mutenure

WAAR Sedgefield

HUL WERK Toe Bruce en sy vrou, Tariro,in 2017 albei hul werk by dieselfde maatskappy verloor, het hulle besluit om hul ervaring van glasfusie (waar glasstukke by hoë temperature ineengesmelt word) in te span – hulle het in hul vrye tyd klasse in dié kunsvorm geloop en was dol daaroor! Na ’n opfriskursus of twee het hulle hul eie winkel, Mlink Glass Studio, by Scarab Arts & Crafts Village op Sedgefield oopgemaak waar hulle dié handgemaakte mooigoed verkoop. Sien mlinkglass.co.za.

2. Hoewel Skinny laMinx bekend is vir hul treffende patrone en kleure, maak hulle deesdae ook effe-kleurige lap! Dié ronde Colour Pop-kussings (R495, 40 cm D) is te kry in die kleure Sage, Lemon, Shell en Cocoa – elkeen netjies afgerond met ’n bypassende omboorsel. Kyk ook by skinnylaminx.com.

3. Ougat nè! Kry dié handgemaakte Sir & Madam-bekers (R340 vir albei; 260 ml elk) by sugarandvice.co.za.

4. Die span by die aanlyn-dekorwinkel lapoplap.com maak lieflike servette (R350 vir twee; 45 x 45 cm), tafellopers (R1 200; 2,5 m x 45 cm) en tafeldoeke (R2 500; 2,5 x 1,45 m) van Summer Florals- Belgiese linne. Koop dit by shop.kamersvol.com en by uitstallings van KAMERS/Makers.

5. Uit lapland

Ons kan die nuwe Antelope-lap uit Biggie Best se African Savannah-versameling (R393,42/m; 140 cm B) nie weerstaan nie. Dis ook beskikbaar in linne en grys. Sien biggiebestwebshop.co.za.

1. Meng en pas met dié oulike Emo Stacking Stools van Block & Chisel  (R695 elk; 47 cm H). Jy sal mos enige ruimte kan ophelder met die moderne ontwerp en vrolike kleure! Sien meer by blockandchisel.co.za.

Witwarm mode!

2. Vinielteëlplakkers is gewilder as ooit! Ons is dol oor dié plakkers wat net soos geperste tin lyk; dis te kry by die dekorwinkel Luvit op Malmesbury teen R35 vir ’n 20 x 20 cm-plakker en R45 vir ’n strook van 10 x 50 cm. Bestel by luvitall@telkomsa.net.

3. En hoe mooi is dié groen Acorn-plakkers met hul 3D-voorkoms (R85 vir ’n 30 x 30 cm-vel) van Heidi J Design? Besoek facebook.com/Heidijdesign.

4. Winkels toe

Sedert Gavin Terblanche en Belteshazzar Raubenheimer hul dekor-winkel, Baraka Gifts & Décor, in 2007 in die Cape Quarter Piazza oopgemaak het, het hul aanhang so gegroei dat hulle na ’n groter perseel in die nuwe Cape Quarter Square in Groenpunt, Kaapstad moes trek. Hier sal jy ’n groot verskeidenheid keramiekwerk, kuns, plakkate en opgeknapte dekor- en meubelstukke kry. Hul oorspronklike winkel is nou ingerig as toonlokaal vir kuns en ontwerpersmeubels.  Loer gerus in by barakashop.co.za.

5.Warm kopies

Skep ’n interessante fokuspunt met Cottonberry se Bamboo Olive-plakpapier (R605/m²) uit hul Indigo Bay-versameling – ons is smoorverlief op die groen vintage-patroon! Dis te kry deur robinsprong.com

6. Tjhoko Paint het pas hul winterversameling bekend gestel – nege nuwe ryk krytverfkleure, elkeen genoem na ’n lid van die Tjhoko-span. So kry die kleur J’co sy naam van Tjhoko Paint se besturende direkteur, Jaco Vosloo, na aanleiding van sy “immergroen” uitkyk – want maak nie saak hoe grys jou dag voel nie, hy sal dit opvrolik. Kyk by tjhokopaint.co.za.