Uit lapland

Hoe lieflik is die nuwe Protea in the Pink-lap van The A Store se Midlands-reeks? Die kunstenaar Lara Waldburger het die patroon ontwerp. Die katoenlap is 144 cm breed en kos R550/m; dis ook beskikbaar in voorskote en vadoeke. Besoek theastore.co.za.

Winkels toe

  • Omskep die slaapkamers in jou huis in droomruimtes met luukse linne van Room Service in die Sherwood-sentrum in Dreyersdalweg, Bergvliet, Kaapstad. Hul beddegoed van hotelgehalte sluit duvets, kussings, handdoeke en dekens in en klante in die gastehuisbedryf kry afslag op grootmaatbestellings. Skakel 021 712 1734.
  • Kraaifontein Pickers, oop vir kopies elke Sondag by Market at the Barn op die R302 tussen Durbanville en Malmesbury, spog met ’n versameling skatte wat die eienaars, Neil en Adele Laubser, self uitsnuffel. Dis moeilik om te glo dié onderneming het begin met verkopings uit hul garage! Besoek facebook.com/Kraaifonteinpickers om aanlyn te koop of ’n afspraak te maak as jy artikels wil besigtig.

1. Hou dop! 

BESIGHEID Alles Wat Mooi Is

WIE Aldiana van der Merwe

WAAR Welgemoed, Kaapstad

HAAR WERK Aldiana se onderneming het begin toe vriende en familie haar persoonlike versameling gehekelde handsakke onder oë gekry het, en daar en dan bestellings vir hul eie begin plaas het! Kort voor lank het sy haar produkte in winkels verkoop en nou sluit haar begeerlike hekelreeks strooikussings, poewe, matte, komberse, muurdekor en ander bykomstighede in – besoek facebook.com/alsmooi om die produkte te sien en te bestel. Die poef (onder) kos R495 (55 cm); die blomme van 100% katoen (bo) kos R20 tot R25 stuk.

2. In die kollig

Bring ’n titsel natuurlike styl in jou leefarea met die elegante Shaka-hanglamp van The Lighting Warehouse (R2 999,95; 43 cm in deursnee). Nesoek lightingwarehouse.co.za.

  1. @home se nuwe Grace Collection loop oor van ouwêreldse elegansie – alles in klassieke neutrale kleure. Die Alyssa-reeks bestaan uit slaapkamerbykomstighede van jacquard, ryk fluweel, borduurwerk en laag-oplaag- teksture. Die versameling sluit nog ’n slaapkamerreeks, Inverness, in (dink silwer strooikussings, piouter jacquards, breistowwe en kunspels), asook besonderse eetgerei en eksotiese geurmengsels. Besoek home.co.za.
  2. Ons is dol oor dié mooi handgeverfde sement-drupmatjies van goeters.co.za (9,5 cm in deursnee; R60 vir twee). Dis mos perfek vir jou stoeptafel!
  3. Italtile se Titanium Art-keramiekteëls (200 x 200 mm) spog met stylvolle patrone in aardse kleure. Die geglasuurde teëls is 7,5 mm dik met ’n mat afwerking en pryse begin by R540/mÇ; met ’n verskeidenheid patrone in een boks kan jy na hartelus meng en pas! Skakel 0861 555 109 of besoek italtile.co.za.

Wil jy ons van iets nuuts vertel? Stuur e-pos na nuus@tuis.co.za.